Trane van blydskap toe Suzie en haar mensma herenig is

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Wie sou kon droom dat jy ooit weer jou dier sal terugkry nadat hy 15 maande tevore gesteel is.

Chanel Maree van Doringkruin het 15 maande gelede twee honde verloor wat uit haar erf gesteel is.

“O, dit was so erg. Die skelms het Suzie en Boesman gevat. Ek het nog so baie aan hulle gedink en verlede week het ‘n familielid ‘n foto van Suzie op Facebook gesien. Sy is ‘n drie jaar oue worsie.

“Ek het die Orkney Animal Shelter op 18 Januarie gekontak en my hondjie was daar. Sy het my dadelik herken. Sy het so getjank van blydskap en ek het net so hard saamgehuil. Sy is nou weer rustig by haar huis,” vertel Chanel.

Volgens Diane Jacobs is dit slegs die tweede keer in agt jaar dat iemand weer ‘n hond na so ‘n lang tyd terugkry.

Sy vertel van ‘n emosionele hereniging tussen ‘n pitbull en sy baas nadat die hond twee jaar by hulle was.

Suzie het in November by die skuiling beland. Volgens Diane het die mense wat Suzie ingebring het gesê hulle trek en hulle kan haar nie meer aanhou nie. Hulle het nie onraad vermoed nie, want die hondjie was rustig en versorg.

“Hulle het haar Sussie genoem en ons het haar Sussa gedoop. Sy is so liefdevol. Ons het haar as ‘ongewens’ op ons rekords aangedui en nie as ‘verdwaal’ nie. Dit is wonderlik om te sien as eienaars en hul diere herenig word. Honde onthou wie hul eienaars is. Ek wens meer mense kan hul diere terugkry,” sê sy.

Jacobs het bygevoeg dat mense nie moet tou opgooi as hul honde wegraak nie, en gereeld by diereskuilings navraag doen. “Kanse is goed dat jou hond dalk by ons is, of uiteindelik daar afgegee kan word,’’ sê sy.

UA-34820896-1