Oesdag nou in Augustus

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die Nampo Oesdag vind vanjaar plaas van 17-20 Augustus. Volgens Jannie de Villiers is Graan SA hoopvol dat die regeringsbeleid en -riglyne die uitgestelde datum sal toelaat.

“Die datum sal op 1 Junie geëvalueer en hersien word indien dit deur die Nasionale Ramptoestand genoodsaak word.”

Met die aanvang van 2021 het Graan SA voortgegaan om die oplewing in die koronaviruspandemie nasionaal sowel as die gepaardgaande regulasies en beperkings op die land, te monitor.

Ingevolge die huidige Vlak 3 van die Wet op Rampbestuur, het Graan SA voortdurend die moontlikheid geëvalueer om die NAMPO Oesdag van 2021 in die oorspronklike formaat aan te bied, alhoewel met die beste praktyke in gedagte om die veiligheid van uitstallers en besoekers te verseker.

Aangesien die COVID-19-pandemie onophoudelik in Suid-Afrika voortwoed, het Graan SA voortgegaan om op grootskaal met alle belanghebbendes te konsulteer oor die beste pad vorentoe.

Die potensiële risiko van verdere golwe in die komende maande kan nie geïgnoreer word nie en Graan SA moes weer die moeilike, maar verantwoordelike besluit neem om die 2021 NAMPO Oesdag wat van 11-14 Mei 2021 op NAMPO Park, net buite Bothaville, sou plaasvind, uit te stel.

Graan SA is daartoe verbind om toepaslike aksieplanne te implementeer in verband met die voortgesette ontwikkelinge van COVID-19.

“Die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap tydens die NAMPO Oesdag is van die grootste belang en word gelei deur hierdie prioriteite en beste praktyk.

Die besluit om die geleentheid uit te stel was ‘n noodsaaklike besluit,” het Jannie de Villiers, HUB, gesê.

Die NAMPO Kaapskou, geskeduleer vir 8-10 September in Bredasdorp, en die NAMPO Alfa-skou, beplan vir 30 September tot 2 Oktober op Bothaville, sal op hierdie bevestigde datums voortgaan. 

UA-34820896-1