Skuiling in nood

Written by Midweek. Posted in Regular

Klerksdorp Midweek, Stilfontein - Die Matlosana Animal Shelter het hulp nodig om sy deure oop te hou.

Die diereskuiling is ‘n paar jaar gelede gestig op ‘n klein perseel deur mense met ‘n groot hart vir diere in nood. Sedertdien het hierdie skuiling gegroei tot ‘n waardige sentrum en sedertdien vir talle suksesverhale gesorg van onskuldige diere wat gered is uit die kloue van mishandelaars en weggooi-eienaars. Die skuiling is ook afhanklik van vrywilligers.

“Ons kry ongelukkig geen fondse of subsidie vanaf die staat af nie. Daar is veearts-rekeninge, petrol en slytasie vir die vervoer van diere asook die inrig van leefruimtes vir die winter wat om die draai is met komberse en ons grootste uitgawe, kos. Ons moet die werkers betaal, kos en soms medisyne voorsien vir die diere. Ons benodig duisende rande per maand om die shelter aan die gang te hou,” sê eienaar Suzette Kotze.

Die Matlosana Animal Shelter is dankbaar vir elke donasie wat hulle inkry en bedank die publiek vir hulle ondersteuning, maar voel die nood knyp hard.

“Op die oomblik is fondse ons grootste nood. Ons kosvoorraad is kommerwekkend, maar hier en daar het ons al donasies gekry.

Ons benodig bykans R20 000 om ons deure oop te hou en weet nie hoe of wat ons gaan doen nie - daar is bykans 100 onskuldige diere wat hieronder ly,” vertel sy.

Enige persoon wat kan help of voel hulle wil ‘n bydrae maak, kan die skuiling by 072 814 5927 skakel.

 

UA-34820896-1