Vullisterrein voldoen nie aan standaarde

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die Klerksdorp vullisterrein word ondoeltreffend bestuur en voldoen nie aan die nasionale standaarde nie. Dit is volgens ‘n ouditverslag wat hierdie week deur AfriForum bekend gemaak is.

Dié nasionale oudit vorm deel van ’n jaarlikse veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 25 vrae gemeet word.

Faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie kom tydens die oudit onder die loep. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen.

“Klerksdorp se vullisterrein het slegs 44% behaal. Die terrein beskik nie oor ’n afvalbestuurslisensie nie, voldoende omhei-ning ontbreek en persone woon selfs op die terrein, reg langs die vullis, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou. Daar is wel ’n mate van toegangsbeheer en ’n weegbrug, maar dit is ongelukkig die omvang van die beheer op dié terrein. Boonop word onwettige vullis ook hier toegelaat,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

AfriForum se Klerksdorptak sal ’n skrywe aan die Stad Matlosana Plaaslike Munisipaliteit rig wat sowel die ouditverslag sal insluit as ’n dringende versoek dat die munisipaliteit moet optree voordat verdere agteruitgang plaasvind.

Ander vullisterreine wat in hierdie provinsie geoudit is, het soos volg gevaar: Potchefstroom 90%, Bloemhof/Christiana 2% en Ottosdal/Sannieshof 2%.

UA-34820896-1