Leerlinge val onnies by skool aan

Posted in Latest News

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Twee hoërskoolleerlinge het amok veroorsaak by ‘n skool naby Zeerust toe hulle glo by saalopening ingestorm en vyf onderwysers aangerand het.

Die leerlinge, onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, is in hegtenis geneem maar intussen op waarskuwing vrygelaat. Hulle moet weer op 26 Maart in die landdroshof op Zeerust verskyn op aanklagte van aanranding, het lt kol Pelenomi Makau, polisiewoordvoerder bevestig.

Volgens Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het die voorval op 9 Maart by die Rearabilwe Secondary School by Ntsoeletsoku Village naby Zeerust gebeur. Malindi het gesê dat die twee Gr10-leerling op 7 Maart kliphard musiek op hul selfone gespeel het terwyl die onder-wyser klas gegee het.

“Dit het die klas ontwrig en die skoolhoof het die leerlinge berispe en gevra dat hul ouers die volgende dag saam skool toe kom.’’
Net een van die twee leerlinge het saam met sy ma opgedaag en is deur die skool se tugproses.

Hy is vir sewe dae geskors en verbied om skool toe te gaan.

Op Vrydag het die twee leerlinge by die saalopening opgedaag en die vyf onder-wysers, vier mans en ‘n vrou, aangeval.

“Hulle het spesifiek die onderwysers aangeval wat by die tugproses betrokke was. Matriekleerlinge het ingegryp en daarin geslaag om die situasie te ontlont.

Die onderwysers het geringe beserings opgedoen en klasse kon nie voortgaan op die dag nie,’’ het Malindi gesê.

LUR Sello Lehari het die voorval ten sterkste veroordeel. “’n Onderwyser is soos ‘n ouer vir kinders as hulle by die skool is. Hierdie voorval is ernstig en moet swaar gestraf word,’’ het hy gesê.

Die departement het berading vir onderwysers en leerlinge by die skool gereël.

UA-34820896-1