Bloemhof vragmotorblokkade

Posted in Home

STELLALANDER-VRYBURG: Organisasies eis dringede ingryping en optrede teen stakende vragmotorbestuurders wat sedert Dinsdag (14 Junie) die N12 by Bloemhof met vragmotors afsper en die belangrike roete verlam.

Chaos het ontstaan nadat ongeveer 200 vragmotors by ‘n onwettige blokkade wat sedert  14 Junie tot 17 Junie by Bloemhof op die N12 onderweg na Kimberley plaasgevind het, aanspreeklik te hou. Volgens polisiewoordvoerder lt.kol Amanda Funani, is die R34 na Hoopstad ook met vragmotors versper. Funani het verder genoem dat die vragmotorbestuurders sê dat hulle ontevrede is oor verlies aan werk weens buitelanders. Die blokkade het nie net die vervoer van produkte op die roete ernstig ontwrig nie, maar het ook miljoene rande se verliese vir vervoer maatskappye en besighede teweeggebring. Die N12 is ‘n kritiese hoof verbindingsroete vanaf Gauteng en die noordelike provinsies na die Noord Kaap en suidelike provinsies en van uiterste ekonomiese belang vir die ekonomie van die land. Die plaaslike ekonomie van Bloemhof het ook geweldige finansiële verliese gelei vanweë die onvermydelike sluiting van besighede en kansellasies van besprekings van besoekers aan die gebied tydens die periode en naweek.
“Dié onwettige optrede kom neer op ekonomiese sabotasie,” sê Fanie du Toit, VF Plus-LP. Die VF Plus het met die eerste aanduidings van die onwettige versperring van die pad onmiddellik met Noordwes se provinsiale polisieowerhede in verbinding getree en versoek dat daar pro-aktief opgetree word om ʼn grootskaalse verkeersopeenhoping te vermy.
“Die polisiebestuur het daarop met die omliggende dorpe gekommunikeer en vragmotors is op alternatiewe roetes herlei om die stakers te vermy.  ʼn Groot aantal vragmotors was egter reeds in die situasie vasgevang. Berigte en bewerings van ernstige intimidasie van vragmotorbestuurders is ook ontvang.”
Volgens Funani is geen beserings of skade tydens die betogings aangemeld nie. Belangegroep organisasies ondersteun deur kundige regsverteenwoordigers, insluitende Agri NW, Afriforum, verteenwoordigers van die geaffekteerde vragmotor eienaars, die DA, Vryheidsfront Plus en Sakeliga werk nou in ‘n gekoördineerde poging verder saam om beide die betrokke stakers en die SAPD tot verantwoording te roep. Klagtes verbandhoudend met skade gelei as gevolg van ekonomiese verliese, asook kriminele klagtes word in die vooruitsig gestel. Die rolspelers is dit eens dat die laakbare optrede van ‘n groepering waarteen daar reeds in die verlede hofinterdikte verkry is, nie langer geduld kan word nie