Gru-ongeluk op R34

Posted in Home

STELLALANDER-VRYBURG: Die rustige Sondagoggend verkeer op die R34 tussen Vryburg en Schweizer-Reneke is kort na 07:00 versteur deur ‘n gru-  botsing reg van voor tussen ‘n vragmotor en ‘n Renault Clio.

Volgens beeldmateriaal van die ongeluk Sondag (26 Junie), het die Renault Clio in die rigting van Vryburg gery en sekondes later is die beeld van die vragmotor, wat in die rigting van Schweizer-Reneke beweeg, wat teen ‘n hoë spoed die pad verlaat en omslaan. Die beeldmateriaal toon verder die wrak van die Renault wat onder die vragmotor beland het tydens die botsing. Die rook trek nog uit die Renault, terwyl die vragmotor stof opslaan met die kop wat die grond tref, die wa wat in die grond skuur en die 36 ton tafelsout wat orals spat. Met die beeld van die wrak van die Renault,  is dit duidelik dat geen lewende wese lewendig daaruit sou kom nie. Minute later is dit stil tot ander padgebruikers stop en die botsing aanskou. Volgens polisiewoordvoerder, kaptein Aafje Botma, is vier persone dood in die ongeluk. Volgens Botma is die bestuurders van albei voertuie dood, asook ‘n passasier in elk van die voertuie. Een passasier van die vragmotor het die gru-botsing oorleef en is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling. Botma noem verder dat die polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek. Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Lesers kan die video van die ongeluk op https://bit.ly/ongelukopr34 kyk. Die video is nie vir sensitiewe kykers nie. (Foto’s: verskaf)