Vandeesweek - 'n voortsetting van ons reeks oor etnies/kultureel-tradisionele resepte/disse en steeds in die styl van aansienlik meer besadig na die oordadigheid van die afgelope Desember-feesseisoen en luilekker skoolvakansie. Of dit kos, lekker drinkgoed, lekkergoed, nageregte of sommer net sjokolade was - oor die afgelope vakansie is als mos maar oordoen - so ja, vandeesweek is ons nog steeds op dieet en ons sjefs en kokke bly maar laag lê. By Rustenburg se "nuwe" Proviant-restaurant waar die heerlikste boerekos en tradisionele geregte bedien word, kry ons vandeesweek hierdie lekker eenvoudige hoenderlewer-resep.
Onder alle kulture tel hoenderlewer as "tradisioneel" maar het jy geweet dat dit eintlik 'n Engelse fynproewershappie is? Die hoofbestanddele is eenvoudige fyngekapte uie en mooi skoongemaakte hoenderlewertjies in blokkies/repies gesny. Die uie gee 'n bietjie geur en breek die metaalagtige smaak van lewer so 'n bietjie.