19
Sat, Jul

Beef
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Mexiko sal seker nooit ooit Suid-Afrikaners se idee van ‘n wonderlike vakansieplek wees nie en die land sal seker nooit ooit vir sy skoonheid bekend wees nie – hoewel daar ‘n paar pragtige plekke langs die kus is waar mense waarskynlik teen geringe koste ‘n baie lekker vakansie kan geniet. Ongelukkig is die vlakke van misdaad in Mexiko hemelhoog (sjoe – klink na vakansie in Suid-Afrika of hoe?) en die akkommodasie is waarskynlik nie van die beste in vergelyking met Westerse standaarde nie. Maar kom ons gee die Mexikane die erkenning wat hulle verdien – vir mense wat nie vir “warm” kos en happies skrik nie, is Mexiko ‘n goeie plek. Vandeesweek bak en brou ons een van Mexiko se gunstelinghappies –  ja, volbloed-“wraps” soos net Chantelle Jacobs (en die Mexikane) dit kan doen – in Chantelle se geval egter kan jy die koste van ‘n vliegtuigkaartjie in jou sak steek en vir jou volgende idilliese vakansie êrens elders spaar. Chantelle deel vandeesweek haar resep vir ‘n “Toasted Beef Taco Wrap” met ons – sjoe, ons het nogal gewonder of die Mexikane se “wraps” ook so lekker is… 

Bestanddele:

1 groot pak Nachos of Dorito-skyfies 
Tortilla-wraps (soveel soos jy nodig het – by jou kruidenier)
‘n Houertjie 230g “Cream Cheese”
1 kg Gemaalde beesvleis
Taco-speserye
1 Groot ui
1 Groot tamatie
Blaarslaai
2 Koppies gerasperde kaas
Drie of vier Jalapenos in klein stukkies gesny (opsioneel)
1 Groot avokado in stukkies/skyfies gesny
Smokey BBQ Sous (of enige sous soos verkies)


Metode:

Braai uie tot sag en voeg Taco-speserye by. Braai tot goudbruin en voeg maalvleis by. Braai maalvleis tot goudbruin en voeg nog Taco-speserye en ‘n klein bietjie water by sodat dit behoorlik kan bind. Smeer roomkaas aan die onderkant van elke wrap wat jy wil voorberei. Skep maalvleis op gevolg deur sous van jou keuse, tamatieblokkies, blaarslaai, Jalapenos, avokado and gerasperde kaas.  Voeg heel laaste jou Nacho- of Dorito-skyfies by en rol/vou jou wraps versigtig toe soos Chantelle dit hier gedoen het (kyk ons foto’s). Braai dan in ‘n pan of toeknyprooster of “toaster” tot goudbruin. Sny wraps versigtig in halwes en bedien. Vir die “groot” eters aan jou tafel behoort twee wraps (vier halwes) heeltemal genoeg te wees.