In verlede week se bak- of kosmaakrubriek het Rustenburg Herald se kookspan in Ons Dorpshuis se kombuis gaan kuier en twee “nuwe” sjefs ontmoet wat maar een van die redes is hoekom Ons Dorpshuis nie sukkel om besprekings te kry nie. Nee, hierdie is voorwaar ‘n spoggerige tuiste weg van die huis waar jy boonop “ma se kos” ook op die spyskaart sal kry.
Verlede week was Maddie van Wyk ons gasvrou en vandeesweek is dit die beurt van haar nuwe kollega Riaan Jansen wat vir ons die lekkerste, sappigste en geurigste (en grootste) keurgraad-frikkadelle voorgesit het. By Ons Dorpshuis het hierdie frikkadelle sedert Riaan se koms sommer vinnig ‘n gunsteling onder gaste geword. Ons is seker in jou kombuis sal dieselfde gebeur:
Bestanddele:
1 kg gemaalde beesvleis
1 eetlepel knoffel
1 rooi ui (fyn gekap)
½ rooi, geel en groen soetrissie
1 eetlepel gekapte basiliekruid
1 teelepel mosterdpoeier
Knippie sout
Knippie peper
60 ml Worcestersous
60 ml tamatiesous
30 ml asyn
2 eiers
250 ml broodkrummels
Vir sous
1 blikkie tamatiepuree of geskilde tamaties
80 ml tamatiesous
1 ui gekap
2 stokkies seldery
1 stokkies prei
2 eetlepels basiliekruid-pesto
2 eetlepels groente-aftreksel (poeier)
125 ml warm waterMetode:
Voorverhit oond op 180 °C en smeer ‘n oondpan met ‘n bietjie olie. In ‘n mengbak plaas al die bestanddele vir die frikkadelle en meng deeglik tot goed gemeng. Rol in klein balletjies en braai in vlak pan met olie todat die frikkadel mooi geseël is en plaas dan in ‘n oondpan. In In ‘n kleiner potjie meng die groente-aftrekselpoeier saam met die warm water en bring dit todat stadig prut en voeg die ander bestanddele by. Voeg dan die sous oor die frikkadelle in die oondpan en bak vir 15 tot 20 minute in die oond. Haal uit wanneer deurgaar en bedien of laat op oondrakkie of roostertjie afkoel vir latere gebruik. Met frikkadelle so lekker soos hiérdie moet ‘n mens wonder of dit nie die ideale plaasvervanger vir braaivleis (of afwisseling ter wille van variëteit) is nie. Moet dus nie verbaas wees as die manne voortaan gretiger in die kombuis as rondom die braaivuur saamdrom nie. Geniet ‘n immergewilde Suid-Afrikaanse gunsteling!
Dankie Riaan – vir meer besonderhede oor Ons Dorpshuis of Riaan se komsbuisgeheime – skakel Ons Dorpshuis se kombuis by 064 957 5370.