Na die kwaai reën van voorverlede week en ‘n paar bitterkoue dae sedertdien spog die meeste spyskaarte met gunstelinge en maklike happies wat die innerlike ‘n bietjie warmer maak en ja, sommer die siel ook verkwik soos die radio elke naweek sê. Foto’s van sneeubedekte berghange op TV en al wat koerant is, is te pragtig maar is nou nie juis iets wat ‘n mens se hart laat warm klop nie nê?
Nee, vir vandeesweek se bietjie warmte sorg Orange Grove Restaurant net ‘n hanetreetjie buite die stad op die Johannesburgpad. Johan en Madeleine Scholtz is die nuwe eienaars van die Orange Grove Restaurant (voorheen van Geelhout Teetuin) waar Johan as sjef die pot aan die kook hou en Sonné Groenwald as restaurantbestuurder optree.
Toe die spyskaart bespreek is, het Johan sterk aangedring op ietsie so ietwat “warms” en ons is uiteindelik met ‘n tradisionele gunsteling verras. Johan se muti teen die winterkoue is niks anders nie as peri-peri hoenderlewertjies met mieliepap – regte winterkos! As jy genoeg vir so 4 tot 5 porsies wil maak, het jy die volgende nodig: