STELLALANDER-VRYBURG: Na ‘n merkwaardige loopbaan van bykans veertig jaar in die onderwys, neem Nanneke Lamprecht vanjaar afskeid van die onderwys met ‘n hart vol dankbaarheid en herinneringe.
Haar loopbaan het in die laat 1980’s begin onder leiding van Ursula Shultz by die Voorbereidingskool in Vryburg.
Gedurende haar loopbaan het sy ook onder die bekwame leiding van opvoeders soos Mej. Malan, Thomas de Koning, Noël Venter en Gerhard Kuhn gestaan — almal leiers wat ‘n invloed op haar ontwikkeling as opvoeder gehad het. Nanneke se forté was ongetwyfeld Graad 3, waar sy vir 24 jaar onderrig het. Sy was ook vir baie jare die departementshoof, en het in verskeie stadiums Graad 2 klasse gehad, insluitend dubbelmediumklasse in beide Graad 2 en Graad 3. In 2013 is sy aangestel as Adjunkhoof van Vryburg Voorbereidingskool en Laerskool Stellaland, ‘n pos wat sy met toewyding beklee het tot 2024. Reeds in 2010 het sy vir die eerste keer waargeneem as hoof toe Thomas de Koning die dorp verlaat het, en later weer toe Noël Venter en Gerhard Kuhn hul spore by die skool verlaat het. Alhoewel sy in verskeie leiersrolle moes intree, was haar ware passie om met kinders te werk. Sy het nooit ‘n begeerte gehad om permanent in bestuursposisies te wees nie. Vir haar was dit ‘n voorreg om elke dag met die kinders van Vryburg se gemeenskap te kon werk. “Ek dra elkeen van hulle in my hart,” sê Nanneke met deernis. “Ek is so trots wanneer ek vandag sien hoe hulle as volwassenes hul plek volstaan. Vryburg is geseënd met pragtige kinders wat ek altyd sal onthou.” Met haar aftrede laat sy ‘n nalatenskap van liefde, deernis en toewyding agter – en ‘n gemeenskap wat haar bydrae vir altyd sal waardeer.