STELLALANDER-GANYESA: ’n Gesamentlike intelligensiegedrewe operasie tussen die Noord-Kaap en Noordwes-polisie het gelei tot die inhegtenisneming van drie mans in verband met die moord op Katlego Moribe (38), wat op 1 Junie 2025 in Seoding Blok A, Kuruman, doodgeskiet is.
Die operasie, wat op Maandagaand, 23 Junie van stapel gestuur is en tot in die vroeë oggendure van Dinsdag, 24 Junie geduur het, is uitgevoer deur lede van die Noord-Kaap Misdaadintelligensie, hul eweknieë in Noordwes, Mahikeng se taktiese reaksiespan (TRT) en die Openbare Orde Polisiëringseenheid van Vryburg. Tydens die operasie is drie verdagtes, Mafatshe Mogotlhong (28), Tshiamo Goodman Moalahi (32) en Sylvester Steenkamp (35), in Ganyesa in hegtenis geneem. Onwettige vuurwapens en ammunisie is ook in hul besit gevind en gekonfiskeer. Die verdagtes het onlangs in die Ganyesa-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer: Besit van vuurwapens, besit van vuurwapens sonder lisensie of permit en besit van ammunisie. Die saak teen Mogotlhong en Moalahi is uitgestel tot 2 Julie 2025 vir ‘n formele borgaansoek. Mogotlhong word deur Regshulp SA verteenwoordig, terwyl Moalahi tans besig is om ’n privaat regsverteenwoordiger aan te stel. Steenkamp, die derde beskuldigde, se saak is eweneens tot 2 Julie uitgestel vir ‘n formele borgaansoek en regsverteenwoordiging. Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal die drie waarskynlik later in Kuruman formeel van moord aangekla word. Die ondersoek duur voort.