Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - KROONDAL - Die nuwe AfriForum-plaaswag op Kroondal is gereed om die spreekwoordelike bul by die horings te pak en veiligheid op plase en plotte in dié gemeenskap op te skerp. 
Die stigting van dié plaaswag spruit uit die gemeenskap se behoefte om self in te spring en misdaad hier hok te slaan. AfriForum is daarom genader om hiermee te help. Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidstreekhoof vir die Sentraalstreek, het die stigting behartig. 

Dié nuutgestigte plaaswag is reeds voluit op dreef en onderneem weekliks patrollies. ’n Totaal van 32 gemeenskapslede is al ingeskryf by die Kroondal-plaaswag en ’n bestuur is ook onlangs verkies.
“Ons besef dat daar baie misdaad in hierdie omgewing is, en omdat die gemeenskap graag hierdie misdaad wil stuit, was die stigting van ’n plaaswag die logiese antwoord. Die plaaswagbestuur wil saam met die gemeenskap werk om die veiligheid in die gebied op te skerp en as Kroondal as gemeenskap hande vat en die uitdagings in die gebied saam aanpak, sal dit ’n beter omgewing vir almal skep,” sê Dawie Conradie, AfriForum se Rustenburg-takvoorsitter.
Die Kroondal-plaaswag se bestuurspan bestaan uit Charl Visser (veiligheids­voorsitter), Herman Behrens (inligtingspanleier), Adriaan Jacobs (ondersteunende spanleier) en JP Powel (operasionele spanleier).
“’n Plaaswag op plotte en plase is van kardinale belang vir die beskerming van die gemeenskap en hul eiendom teen verskeie soorte misdaad, insluitende diefstal, sowel as die hantering van ander veiligheidsrisiko’s. Dit skep ’n sin van samehorigheid en gemeenskapsverantwoordelikheid wat die gemeenskap aanmoedig om saam te werk om hul omgewing veilig te hou. Deur aktiewe patrollies en samewerking met wetstoepassingsinstansies, dra ’n plaaswag by tot ’n veiliger en meer lewensvatbare plaasgemeenskap. Daarom moedig ons die gemeenskap aan om saam met ons hierdie pad te stap en ook by die plaaswag betrokke te raak,” sê Visser.
AfriForum se Rustenburg-tak nooi die gemeenskap uit om by toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Navrae oor die Rustenburg-buurtwag en Kroondal-plaaswag kan gerig word aan Dawie Conradie by 082 930 9905.