NOORDWESTER – LICHTENBURG - Max Williamson het op 31 Oktober begin hardloop vanuit Lichtenburg en op 1 November by die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom aangekom nadat hy die 175km in 27 uur, 7 minute en 15 sekondes voltooi het.
Dit was nie net ’n sportuitdaging nie, dit was ’n gebed wat asemhaal – elke kilometer ’n stukkie gehoorsaamheid, ’n gesprek met God. Max het geglo dat die Here hierdie droom in sy hart geplaas het en dat Hy hom deur elke kilometer sou dra.
Hy het hierdie pad aangepak vir kinders wat nooit die kans gekry het om hul eie pad te kies nie – kinders wat moes grootword sonder sekerheid en sonder die liefde wat so vanselfsprekend behoort te wees. Hy wou hê dat hulle moes voel: “Iemand het vir julle gekies.”
Langs die pad was daar nie groot skares nie. Daar was ’n groepie van sy mense wat hom stil en met liefde ondersteun het. Hulle het nie lawaai gemaak of aandag gesoek nie; hulle het opgedaag om te dra, te versorg en saam te waak – in die dag en deur die nag. Dit was ware vriendskap, roeping en gehoorsaamheid aan God se opdrag om mekaar te dien.
Hy het gegee wat hy kon, en nog ’n bietjie meer – en dáárin lê die getuienis. Max het gewys dat liefde nie net ’n gevoel is nie – dit is ’n besluit. Hy wou wys dat ’n mens, met God se krag, tot enigiets in staat is wanneer jy bereid is om gehoorsaam te wees. Hy het gewys hoe geloof lyk wanneer dit nie net met woorde gedeel word nie, maar met voete en opoffering.
Die kinderhuis se kinders het buite gewag en sy naam geroep. Dit was suiwer en kosbaar vir sy moeë liggaam. “As mense wil weet hoe geloof lyk wanneer dit werklik geleef word, kyk na die voetspore tussen Lichtenburg en Potchefstroom.” Al die pyn en seer, was deur en deur die moeite werd. Al sê hy “nooit weer nie”, sal net die tyd leer.
(deur Monché Botha, vriendin.)









