STELLALANDER-VRYBURG: Presies drie dekades nadat “Hie’ kommie Bokke!” in 1995 tydens die Springbokke se historiese Rugbywêreldbeker-oorwinning oor die All Blacks op die destydse Ellispark in elke huis en motor opgeklink het, het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ’n eretoekenning aan Leon Schuster oorhandig vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek, rolprente en radiowerk.
Hoewel dié grapjas, poetsbakker, rolprentvervaardiger en storieverteller tans gesondheidsuitdagings beleef, het die FAK hom by sy huis in Johannesburg besoek om die eerbewys persoonlik aan hom te oorhandig. “Leon Schuster is reeds dekades lank ’n huishoudelike naam en het daarin geslaag om met sy unieke humor, liedjies en rolprente die harte van miljoene Suid-Afrikaners aan te raak. Hy het nie net vermaak nie, maar ook die Afrikaanse kultuur in sy kenmerkende styl aan ’n breër publiek bekendgestel,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die FAK. Van rolprente soos You must be joking (1986), Oh Schucks!... Its Schuster (1989), Sweet ’n Short (1992) en Mr Bones (2001), om maar enkeles te noem, tot sy gewilde liedjies soos “Briekdans”, “Dasiefoutie”, “Die Bokmasjien”, “Pretty Kabousie”, “Ag Pleeze Daddy” en “Gautengeleng” het Schuster nie net ’n nasionale legende gemaak nie, maar keer op keer gewys dat hy mense se taal en gees verstaan, sê Brand. Met die oorhandiging van die toekenning het die FAK sy waardering uitgespreek vir Schuster se volgehoue werk om die Afrikaanse taal en kultuur op ’n toeganklike en vreugdevolle manier te bevorder. Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, is dit ’n reusevoorreg om Schuster te vereer: “Om ’n baanbreker en ’n uiters veelsydige vermaaklikheidskunstenaar te vereer vir sy bydrae van meer as 50 jaar in verskeie mediums, is vir die FAK ’n reusevoorreg. Hy is ’n onmisbare deel van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse landskap en deur en deur ’n legende.” Hoewel Schuster se gesondheid hom tans verhinder om groot byeenkomste by te woon, was sy dankbaarheid oor die toekenning duidelik. Hy het die FAK se besoek as ’n diep persoonlike bemoediging beleef en sy waardering uitgespreek vir die liefde en erkenning wat hy uit die gemeenskap ontvang. “Die FAK glo dat Schuster se werk vir jare lank sal voortleef en toekomstige geslagte sal inspireer om Afrikaans met trots te vier en uit te leef,” sê Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, wat die toekenning saam met De Jager aan Schuster oorhandig het. Volgens Schuster wil hy graag onthou word as iemand wat vir Suid-Afrikaners vreugde gebring het. “Wat mense bymekaargebring het. Daar is niks beter as om iemand te laat lag nie,” sê hy. Schuster is ook onlangs op kykNET se Silwerskermfees vir die rolprent- en TV-bedryf vir sy lewensbydrae tot die vermaakbedryf vereer. Die dokumentêre reeks Schuster, bestaande uit vyf episodes, begin op Woensdag 1 Oktober om 20:00 op kykNET (kanaal 144).