STELLALANDER-STELLA: Die gewilde Stella Slagos en Stella Interras-slaglamkompetisie vind op 14 en 15 Oktober by die veiligskrale in Stella plaas en beloof om weer groot belangstelling uit die gemeenskap te lok.
Op Dinsdag, 14 Oktober word die lammers en osse ingeweeg, waarna die beoordeling van die lammers op die hoef gedoen word. Die volgende dag, Woensdag, 15 Oktober, volg die beoordeling van die lammers aan die hak, asook die osse op die hoef. Die prysuitdeling vir die reeds afgehandelde afdelings vind Woensdagaand plaas, terwyl die beoordeling van osse aan die hak op Vrydag, 17 Oktober gedoen sal word. Volgens die organiseerders is daar reeds groot belangstelling in vanjaar se kompetisie. “Die gemeenskap is weer behoorlik op dreef ná die sukses van die laaste Stella Beesfees,” vertel een van die betrokkenes.
Hierdie is die derde skaapkompetisie wat in Stella aangebied word, en ook die eerste beeskou ná die Beesfees. Verlede jaar het Rodger (Boytjie) Chrispin van Delareyville die Stella Interras-slaglamkompetisie gewen, én hy is ook aangewys as die Nasionale Wenner en SA Kampioen met sy uitmuntende Île de France-karkas. Hy het in 2024 ook 15 plekke op die hoef verower, ’n prestasie wat wyd bewonder is. Vir meer inligting of deelname kan Joppie Pretorius by 083 395 6978, Paul Maree, of Antionette van Heerden by 082 776 6372 gekontak word.