STELLALANDER-VRYBURG: Die Vroue-Landbouvereniging (VLV) van Vryburg het 2025 op ’n hoogtepunt afgesluit en trots teruggekyk op ’n jaar vol uitsonderlike prestasies.
By die jaarlikse prysuitdeling en afsluitingsfunksie op Woensdag, 19 November is lede se harde werk en toewyding erken en gevier. Reeds vroeg in die jaar het die tak groot sukses behaal toe Vryburg VLV in Maart die eerste plek by Sirkel Kalahari se konferensie losgeslaan het.
Die nasionale Kongres, wat in Augustus in Langebaan gehou is, het nóg rede tot trots gebied: Marietjie Steyn het twee eerste plekke verower in Borduur- en Hekelwerk en haar borduurwerk is aangewys as die mees uitstaande item op die hele kongres. Verder is Vryburg ook bekroon as die beste tak in VLV Kaapland en is die gesogte Lubbe-trofee ontvang. Verskeie lede is ook vereer vir hul onberispelike bywoning deur die jaar. Lede met 100% bywoning sluit in: Eurika Byleveld, Daline Geere, Trudie Kok, Petro Ollewagen, Elaine Strauss, Carien van Niekerk, Lindi van Vuuren en Nellie Viljoen. Griselda Pretorius is bedank vir haar toegewyde diens as sameroeper. Lede het deur die jaar punte verdien vir kompetisie-inskrywings, en as erkenning hiervoor het die volgende lede ’n VLVK-lepeltjie vir 2000 punte ontvang: Eurika Byleveld, Ronell Kemp, Trudie Kok, Marietjie Steyn en Nellie Viljoen. Carien van Niekerk het ’n lepeltjie vir 4000 punte verwerf. Die trofees vir beste prestasie in die onderskeie studierigtings is ook toegeken:
Blomme (gevorderd): Marietjie Steyn – 164 punte
Blomme (ope afdeling): Nellie Viljoen
Blomme (beginners), handwerk, kookkuns, kunste én meeste punte algeheel: Carien van Niekerk
Die hoogste eer van die aand, die Doris Linde-trofee vir uitsonderlike prestasie, is aan Marietjie Steyn toegeken vir haar buitengewone uitblinkwerk deur die jaar. Die Vryburg-tak sien met trots terug op ’n merkwaardige jaar en bedank elke lid vir hul bydrae tot die tak se groei en sukses.









