BONUS - RUSTENBURG - Die Platinumstreek is ‘n groeiende en dinamiese omgewing, en Ons Winkels vorm die fondament waarop volhoubare projekte – op nasionale, streeks- en takvlak – gebou word. Hierdie projekte, deur Solidariteit Helpende Hand, is daarop gemik om gemeenskapsuitdagings te verlig en in baie gevalle, selfs te voorkom.
Die Ons Winkel Bou 'n Toekoms-kompetisie ten bate van die Platinum Gemeenskapstudiefonds is in Junie geloods en lede van die gemeenskap word uitgedaag om by enige Ons Winkel in die Platinumstreek ’n volledige uitrusting van kop tot toon aan te trek en dan ’n foto te laat neem in die fotohoekie.
Inskrywingsgeld beloop slegs R50 en daar is verskeie kategorieë - en boonop staan deelnemers die kans om fantastiese pryse ter waarde van R1 000 te wen, én om dan deur te dring na die hooftrekking wat in September plaasvind!
Die inskrywingsgelde van hierdie kompetisie sal aangewend word ten bate van die gemeenskap se jongmense wat befondsing nodig het om te gaan studeer. Die Gemeenskapstudiefonds is ‘n plaaslike inisiatief wat daarop gemik is om skoliere wat nie oor die finansiële middele beskik vir tersiêre studies nie, te ondersteun. In samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Studietrust, bied dié fonds rentevrye studielenings aan verdienstelike leerders in ons gemeenskap.
In 2024 is Rustenburg se Ons Winkel aangewys as Platinum-streekwenner van die jaar – ’n prestasie wat met trots en dankbaarheid gevier word - en nou gee hulle terug deur saam met die gemeenskap ’n toekoms te bou.
Kompetisie-inligting
* Kategorieë: 0-12 jaar / 12-18 jaar / Vroue / Mans / Groepe
* Inskrywings is reeds oop en sluit 20 September
* Vir meer inligting oor die Helpende Hand Studietrust en die gemeenskapstudiefonds, besoek gerus die Helpende Hand Studietrust Facebook-blad of die webtuiste: www.helpendehand.co.za