NOORDWESTER – MAREETSANE - Die doel van die Mareetsane VLU se onlangse uitstappie was om die gesogte essensiële oliewinkel te besoek in die hartjie van die Bosveld en om meer te leer oor essensiële olies – ‘n ervaring wat almal na uitgesien het.
‘n Koffiebreek is in Sannieshof gevat met sojaboonpasteitjies, baie gepas, aangesien die sojaboon vanjaar se VLU-produk van die jaar is. Dit was heerlik en daarna is die pad verder aangepak.
Met die aankoms by die winkel is die groep hartlik verwelkom deur Trudie Kasselman, een van die eienaars van die onderneming. Sy het dadelik die vrouens se nuuskierigheid geprikkel en vertel van hul reis – van klein begin tot ‘n suksesvolle onderneming wat spesialiseer in natuurlike produkte en essensiële olies.
Sy het ook interessante kennis gedeel oor essensiële olies – hoe dit vervaardig word, hoe dit gebruik kan word, en watter voordele dit vir liggaam en gees inhou.
Adri du Preez het aan Trudie verduidelik dat sojaboon die produk van die jaar is, en Trudie het spesiaal navorsing gedoen oor soja en die olies wat daaruit onttrek kan word. Sy het waardevolle insigte gedeel oor die gebruike en voordele van sojaboon-olie – van velsorg tot emosionele ondersteuning - en het die olie gekry en beskikbaar gestel aan die vrouens.
‘n Hoogtepunt van die dag was toe elke vrou die geleentheid gekry het om hul eie essensiële lyfolie saam te stel, spesiaal aangepas by die voordele wat elkeen graag wou hê. Na afloop van die werkswinkel is die gaste bederf met vars koffie en laventelkoekies, en het hulle ook die ander eienaar van winkel, Rina Kasselman ontmoet - Trudie se skoonma. Die atmosfeer was hartlik en verwelkomend.
Volgens tradisie, is die maandelikse VLU-vergadering daarna gehou, waar Adri die vrouens met heerlike sap en papawersaadmuffins bederf het.
Die uitstappie was nie net ‘n leersame ervaring nie, maar ook ‘n kosbare dag van saamwees, inspirasie en nuwe ervarings.