STELLALANDER-STELLA: Die gewilde Stella Slagos en Stella Interras-slaglamkompetisie het op 14 en 15 Oktober by die veilingskrale in Stella plaasgevind en weereens groot belangstelling uit die gemeenskap gelok. Op Dinsdag, 14 Oktober, is 220 lammers en 125 osse ingeweeg, waarna die beoordeling van die lammers op die hoef gedoen is.
Die Superlam op die hoef is gewen deur Ina Mentz van Stella met ’n Ille de France, terwyl André Bezuidenhout die Reserwe Superlam-titel met nog ’n Ille de France verower het. Die algehele wenner van die Interras-slaglam op die hoef was JJ Botha van Piet Plessis met ’n Dorper/Ille de France-kruising, en die Reserwe Interras-slaglam is aan Boytjie Crispin toegeken.
In die groepsafdeling het JJ Botha ook as kampioen groep op die hoef uitgeblink met sy Dorper/Ille de France-kruising, terwyl Dries Badenhorst van Delareyville die reserwe kampioen groep-titel gewen het. Ander wenners aan die hoef sluit in: Beste kruisras van JJ Botha (Dorper/Ille de France), Beste Ille de France van André Bezuidenhout, Beste Meatmaster van Boytjie Crispin, Beste SA Vleismerino van Hannes van Rensburg, Beste Van Rooy van Jannes van Heerden, Beste Dormer van Stefan Niemann en Beste Dorper van Friedel Rediker. Die Superlam aan die hak is weer deur Ina Mentz van Stella gewen met ’n Ille de France. Die Interras-slaglam aan die hak is gewen deur Boytjie Crispin met ’n Dorper (98.11%), terwyl Stefan Niemann van Kameel die Reserwe Interras-slaglam gewen het. JJ Botha het ook die kampioen groep aan die hak gewen, met Dries Badenhorst as reserwe groep kampioen. Op Woensdag, 15 Oktober, het die beoordeling van die osse op die hoef plaasgevind. Die Superos op die hoef sowel as die Reserwe Superos is albei deur Malemba Boerdery gewen. Die Stella Slagos op die hoef-titel is aan Koos van den Heever toegeken met ’n Bonsmara. Interessant genoeg het Koos se pa, Karools van den Heever, reeds in 1998 dieselfde titel gewen met ’n Sussex/Afrikaner-kruising. Nou boer Koos saam met sy seun, Johan van den Heever, wat die familietradisie laat voortleef. Die Reserwe Stella Slagos op die hoef is gewen deur Stefan Niemann, terwyl die kampioen groep op die hoef weer aan Koos van den Heever toegeken is en die reserwe kampioen groep aan Koedoelake van Emmiel Bothma. Wenners van die osse se gewigsklasse is as volg: A-groep (370–420 kg): Koedoelake van Emmiel Bothma, B-groep (421–450 kg): Koedoelake van Emmiel Bothma, C-groep (451–490 kg): Memel Boerdery van Dirk Cilliers en D-groep (491–530 kg) van Koos van den Heever. Die beoordeling van die osse aan die hak is op Donderdag, 16 Oktober voltooi. Die Superos aan die hak is deur Malemba Boerdery gewen. Die Stella Slagos aan die hak-titel is aan Koos van den Heever van Kameel toegeken met ’n Bonsmara, wat ’n prysgeld van R110 per kilogram ontvang het, geborg deur Kalahari Beefcuts, Pretoria. Die Reserwe Stella Slagos aan die hak is Pieter de Bruin van Stella met ’n prysgeld van R100 per kilogram, geborg deur Pretoria Vleisbeurs. Die kampioen groep aan die hak is gewen deur Koedoelake, met ’n R73 per kilogram borgskap deur Stella Vleis, en die reserwe kampioen groep is Pieter de Bruin, wat R72 per kilogram ontvang het, ook geborg deur Stella Vleis. Die kompetisie het weer eens gewys waarom die Stella Slagos en Interras-slaglamkompetisie as hoogtepunt op die streek se landboukalender beskou word.









