STELLALANDER-STELLA: Soos altyd het Hoërskool Stella alle rede om trots te wees op sy leerders.
Ná 12 jaar van harde werk en toewyding deur leerders, ouers en onderwysers, kan die skool met trots die klas van 2025 gelukwens met hul puik prestasies. Die groep behaal ’n indrukwekkende gemiddeld van 59,12%. Onder die 25 matrieks is daar altesaam 23 onderskeidings. Neldus Scholtz het besonder goed gevaar met sewe onderskeidings, waarvan drie vakke bo 90% was, asook ’n onderskeiding in Gevorderde Wiskunde. Lourens Kriel spog met vier A-simbole, terwyl Lize Goosen en Channa Slippers elk drie A’s behaal het.
“Julle uitstekende uitslae is slegs die begin van jul grootmenslewe. Maak Hoërskool Stella trots deur die verskil wat ons weet julle in die wêreld gaan maak,” lui die skool se boodskap aan die matriekgroep. Neldus Scholtz is onlangs by die Dr RSM-distrik se ‘Well Done’-funksie vereer vir sy uitmuntende matriekuitslae.
Hy is aangewys as die top presteerder in Rekeningkunde sowel as Inligtingstegnologie in die distrik, en het ook ’n vyfde plek behaal vir sy gemiddeld, Lewensoriëntering uitgesluit. Hoërskool Stella het verder ’n algehele 12de plek behaal vir sy prestasie in die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die skoolgemeenskap is trots op elke leerder en wens die klas van 2025 alle voorspoed toe met hul toekomstige studies en loopbane.









