STELLALANDER-KAMEEL: Die Global Elite Racing Kameel 300 is op Saterdag, 27 September by Kameel aangebied onder ’n bewolkte lug met ’n ligte reënbui wat af en toe uitgesak het.
Tog het die uitdagende toestande nie die deelnemers gekeer om vir die toeskouers ’n dag vol adrenalien en dramatiese oomblikke te bied nie. Keith Smith en Juandrè Kruger het tydens die tydtoets die tweede vinnigste tyd aangeteken.Hulle het sterk weggespring in die hoofren, wat uit twee rondtes bestaan het, en kort daarna die voorste motor verbygesteek om die leiding te neem.
Op ’n stadium het hulle vermoed dat die voertuig ’n pap band agter het en moes stilhou om ondersoek in te stel. Gelukkig was dit vals alarm, maar die stop het hulle twee posisies gekos. Met ’n bestendige pas het hulle die res van die wedren voltooi en derde algeheel en derde in die FIA Big Wheel Klas geëindig met hul CR5. Jan Rose en Arno Olivier het met hul Ford Ranger V8 ’n puik wedren gehad en op hul vorige oorwinnings voortgebou. Hulle het uiteindelik eerste in die Produksievoertuie Klas en gevolglik ook eerste in Klas T geëindig, ’n prestasie wat hul reeksdominansie bevestig. TG Jansen van Rensburg en Vince van Allerman, ook in ’n Ford Ranger V8, het die dag benut om waardevolle punte op te bou. Hulle het ’n stewige rit gehad en tweede in die Produksievoertuie Klas behaal, wat hulle ook tweede in Klas T geplaas het. Wayne Smith en Frans McMaster het met hul Klas D Toyota Hilux vanaf die 30ste plek in die tydtoets weggespring. In die hoofren het hulle vinnig opgeklim na die 17de plek en later die 14de plek verower, voor ’n gebreekte stuurmeganisme hulle ongelukkig uit die wedren gedwing het. Gideon Jacobs en Junior Vardy het met hul Chevrolet Porter V8 sesde weggespring, maar het meganiese probleme ondervind en kon nie die wedren voltooi nie. Tokkie Ferreira en Mac van Loggerenberg het reeds in die tydtoets probleme beleef en moes vanaf die 22ste posisie in die hoofren wegspring. Hulle het egter bestendig gery en derde in hul klas geëindig, wat hulle ook derde in die FIA Small Wheel Klas geplaas het.