STELLALANDER-STELLA: Hoërskool Stella is trots op Estiaan Vorster, hoofseun van 2021, wie onlangs verkies is as Primarius van Veritas, een van die manskoshuise by die Noordwes-Universiteit.
Die Primarius is die student wat saam met die huisouers en huiskomitee die koshuis lei en bestuur. Hierdie rol dra groot verantwoordelikhede, van sport, kuns, fondswerwing en liefdadigheid tot die bewaring van tradisies en die bevordering van gemeenskapsgees. Veritas huisves tans 261 studente, en as Primarius bepaal Estiaan die koers en visie van sy koshuis. In ’n boodskap aan sy mede-studente sê Estiaan: “My doel as Prim is om te dien, net soos Christus gedien het. Om ander hoër te ag as jouself en om alles te gee, maak nie saak wie teen jou draai nie. Dit is om ten volle te vertrou dat Sy wil sal geskied.
” Hy beskryf die rol as meer as net bestuur: dit is laat aande en vroeg oggende, trane opdroog en saam vreugde deel, ’n leierskap wat vaderfiguur, mentor en vriend insluit. Die Stella-gemeenskap sê hulle is nie verbaas oor Veritas se keuse nie. “Geen plek is ooit weer dieselfde as Estiaan Vorster eers die leisels oorgeneem het nie,” lui die boodskap van sy alma mater. Met sy sterk geloofsgrondslag en toewyding aan diensleierskap, is Estiaan besig om nie net Veritas se tradisie te dra nie, maar ook Stella se naam met trots hoog te hou.