STELLALANDER-STELLA: Op Sondag, 6 April, het nege studente en twee onderwysers van Wangen im Allgäu, Duitsland, op die OR Tambo-lughawe geland vir ‘n twee weke lange besoek aan Hoërskool Stella, naby Vryburg.
Na lang beplanning oor kontinente heen, het die uitruilskema uiteindelik gerealiseer en dit het alle verwagtinge oortref. Terwyl dit lyk asof die omgewing min het om aan Europeërs te bied, het hulle besoek die plaaslike gemeenskap met nuutgevonde waardering na hulle eie wêreld en Afrika laat kyk. Die besoek het begin met ‘n heerlike naweek by Woodside Lodge, waar vriendskappe onmiddellik begin blom het. Daarna het die Duitsers hulle in die koshuis gaan tuis maak. Tussen skoolbywoning en skoolsport is die omgewing ook verken met besoeke onder andere aan Botselo Mills, Tierkloof, wildsplase en ‘n leeuplaas. Daar is baie gebraai en tradisionele kos soos pap, pampoenkoekies, melktert en machuchu (vetkoekies) geëet. Toe die uitruilstudente moes vertrek, het die trane behoorlik gevloei. Dit was ongelooflik hoe geheg die jongmense aan mekaar geraak het. Van die hoogtepunte op die lys vir die Duitse uitruilstudente was die ‘sand surfing’ en sokkie. Gedurende die Julie-vakansie later vanjaar, sal agt Stella-leerders en hul onderwysers wat deel is van die skema, weer vir twee weke na Duitsland vertrek vir die teenbesoek.