Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BRITS POS – PRETORIA - Een van die dae hoef Noordwesters en Gautengers nie meer ver te ry vir ’n natuurervaring nie. Waar anders kan jy in die middel van Pretoria veilig tussen ’n trop swartwildebeeste stap?
Die Voortrekkermonument (VTM) is in die proses om sy natuuraanbod uit te brei. Deel van hierdie aanbod is om vyf staproetes te open vir die publiek, ’n splinternuwe natuurgids uit te gee en moontlik later ’n uitkykpunt te bou by die gwarriegat waar voëlkykers kan uitspan.
Drie van hierdie roetes is reeds uitgelê en groepe natuurliefhebbers het reeds die roetes gestap en die VTM het net goeie terugvoer ontvang.

“Ek het dit vreeslik waardeer om deur die natuur te stap en baie geleer in die proses oor koorsbome en verskillende spesies. Dit was lekker om teen ’n gemaklike pas te stap en alles in te neem,” sê Lieandri Ackermann wat die begeleide staptoer gedoen het. 
“Kinders sal mal wees oor die roete,” vertel Samantha Müller wat ook saamgestap het. 
Ilomie Kruger, natuurbewaarder by die Voortrekkermonument, het sedert die begin van die jaar bloed en sweet gegee om die aanbod uit te brei en sy is ‘n toergids duisend.
“Die Voortrekkermonumentterrein het ’n groot biodiversiteit en baie geskiedkundige waarde. Behalwe vir die monument self, lê daar baie geskiedkundige waarde op die terrein, byvoorbeeld die gwarriegat,” sê Kruger. 
Die hele Voortrekkermonumentterrein, Groenkloof- en Fonteine-area was eens deel van Lucas Bronkhorst se plaas. Dit is destyds oorgekoop deur die Transvaalse regering om die Voortrekkermonument te bou. Dit is by die gwarriegat waar die leiklip uitgekap is om die monument se trappe uit te lê.
“Voor enigiets op die terrein verander kan word, moet ons goedkeuring kry by die stadsraad,” vertel Kruger. “Ons is tans besig met die finale prosesse om die staproetes te open. Die roetekaarte is reeds uitgelê en stappers sal toegang tot die kaarte kan kry deur QR-kodes op die roetes.”
Die Voortrekkermonument het  95 boomspesies op die terrein geïdentifiseer en 29 aangeplante boomspesies op Monumentkoppie. Daar is ook 12 soogdierspesies, 11 reptielspesies, ongeveer 80 voëlspesies en 50 skoenlapperspesies.
“Sodra ons goedkeuring by die stadsraad kry, sal ons graag ’n uitkykpunt by die gwarriegat wil bou,” sê Kruger.
Stappers sal kan kies of hulle ’n begeleide toer saam met Kruger wil meemaak waar sy interessanthede oor die natuur deel, of hulle kan op hulle eie deurstap. Die roetes is tussen 3,5 km en 5 km elk. Daar sal ook ’n pakket beskikbaar wees vir die publiek wat ’n staproete, toegang tot die Voortrekkermonument en ’n koopbewys by een van die restaurante insluit.
As jy lief is vir die natuur en die natuurerfenis, kan jou bydrae die Voortrekkermonument baie help: www.vtm.org.za/donasies/