Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BRITS POS – BRITS - “Hierdie is nie my oorlog nie en steeds het ek alles verloor. Hardloop my kind, hulle is op ons, hardloop, maar die duiwel haal jou in, hulle steek mens en wa aan die brand. 
Die desperate geskree na hulp weergalm nou nog in my kop, bloedveld regoor die landskap lê kinders soos koring gesaai, afgemaai, flenters, verwoes. Ou mense, vroumense en kinders assegaai so diep soos geloof self deur klein lyfies gedwing.”
Die woorde kom uit ’n monoloog uit die Gelofteblyspel wat deur die Voortrekkermonument se eie akteur Karla Hoogendoorn opgevoer is.

Dit was maar een van die hoogtepunte tydens die eerste eksklusiewe nagtoer wat deur die baken van hoop, die Voortrekkermonument, aangebied is. 35 toergangers het die unieke geleentheid bygewoon.
Tydens die monoloogopvoering van hierdie hartroerende toneel by die friespaneel wat die Slag van Bloukrans uitbeeld, het toergangers duidelik na hul asems gesnak en moes hulle die trane beveg. 532 Voortrekkers is in die nag van 16/17 Februarie 1838 vermoor waarvan 185 kinders was. Die toer, waar al die friespanele deur beligting werklik lewendig word, is deur Charles Rademeyer aangebied en die toergangers het met lof oor die aanbieding gepraat.
Christiaan Jordaan, wat die rol van Sarel Cilliers  vertolk, het die gelofte by kanon Grietjie afgelê, net soos Cilliers gedoen het in die oploop van die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.
Toergangers sê dit is verseker een van die beste ondervindings wat hulle gehad het oor hoe die geskiedenis oorgedra en aangebied word.
“Dit is my eerste keer ooit by die Voortrekkermonument en wat ’n ervaring. Die opvoering van die vrou (Karla) was net hoendervleis. Sy het dit so goed gedoen, dit het gevoel of ek by Bloukrans is. Mens kan nie glo hoe wreed dit was nie,” sê die 18-jarige Tiané Smit.
Bronwyn Swanepoel (16) en haar broer Rogan (19) kon nie uitgepraat raak oor die beligting en hoe dit die friese “lewendig gemaak” het nie.
“Dit is ’n heeltemal ander ervaring as wat ek ooit by die monument gehad het. Ek het meer van die monument gesien as wat ek ooit gesien het. Ek speel more netbal en ek gaan al my vriende sê hulle moet kom op die volgende nagtoer,” sê Bronwyn.
“Dit is heeltemal anders om dit te lees in ’n boek as om dit te beleef. Ek het vanaand in ’n uur en ’n half meer geleer as wat ek in my hele hoërskoolloopbaan geleer het oor dié geskiedenis,” sê Rogan.
Die datum vir die volgende nagtoer gaan binnekort aangekondig word. (Foto’s verskaf)