BRITS POS – BRITS - Margerite van Niekerk, onlangs aangewys as Bayer Boervrou van die Jaar 2025, het onlangs haar wenbedrag aan Opkyk Pathways geskenk.
“Ek het baie planne gehad, maar die Here het Opkyk Pathways in my hart kom lê,” vertel Margerite. “Toe ek sê ek wil saai, het ek nie geweet die eerste groei sou in my eie hart begin nie. Hierdie kinders se laggies, hul drome en hul onskuld herinner my aan God se groot liefde. Ek wil die Here alle eer gee.”
Vir Margerite was dit ’n besondere oomblik om haar eie kinders saam te neem: “Ek is dankbaar dat hulle deel van hierdie vreugde kon wees. Ek stap vandag weg met ’n voller, sagter en ryker hart.”
’n Ligplek van hoop
Opkyk Pathways, onder leiding van Drika Kruger, bestaan sedert 2002 – aanvanklik op die plaas Kleinfontein en die afgelope 19 jaar in De Kroon, Brits. Die sentrum dien kinders en jong volwassenes tussen 3 en 21 jaar met uitdagings soos serebrale gestremdheid, Down-sindroom, outisme en ander ontwikkelingshindernisse. Baie van die kinders gebruik alternatiewe maniere van kommunikasie omdat hulle nie ekspressiewe spraak het nie.
In totaal is 21 kinders en jong volwassenes deel van die liefdevolle omgewing, en die sentrum dien ook hul gesinne in die gemeenskap van Brits, Hartbeespoort, Pretoria en Rustenburg.
Ontwikkeling en vaardighede
Omdat behoeftes verander soos die kinders ouer word, bied Opkyk Pathways ’n verskeidenheid vaardigheidsontwikkeling-programme aan: van erdwurmboerdery, groente-saailinge en ’n groentetuin tot houtwerk, kunsprojekte, naaldwerk, kook en bak. Jong volwassenes verkoop hul produkte en bedryf selfs ’n klein teetuin op vasgestelde dae. Elkeen, ook kinders met die minste funksionaliteit kry die kans om iets te skep.
’n Hoogtepunt vir almal is die interaksie met die perde – ’n aktiwiteit wat vreugde, terapie en vertroue bring.
’n Dankbare hart
“Baie dankie dat jy Opkyk Pathways as jou begunstigde gekies het,” sê Drika Kruger. “Dit gee ons moed en motivering om aan te hou met dit wat ons doen, selfs in moeilike tye.”
As ’n geregistreerde NPC met 18A vrystelling kan Opkyk Pathways ook aan donateurs belastingvrystellingskwitansies uitreik. Alle donasies word uitsluitlik aangewend vir die instandhouding en uitbou van die sentrum.
Vir Margerite bly dit ’n geloofspad: “Ek het ingeskryf omdat ek dankbaar is om die Here se Naam te verkondig. Hierdie oorwinning behoort aan Hom.” (Foto’s verskaf)