BRITS POS – BRITS - Alhoewel Madibeng plaaslike munisipaliteit spog met nuwe voertuie in hulle voertuigvloot, is die verval in Brits en aangrensende gemeenskappe duidelik. Paaie word nie instand gehou nie en slaggate, wat meer soos dongas lyk, is in elke straat en inwoners en besoekers skryf daagliks voertuigbande en -vellings af. Daar is nie meer straatligte wat werk nie, want nie net word die elektriese kabels gesteel nie, maar ook die straatligte.
Die donker is natuurlik ‘n oop-uitnodiging vir skurke om met hulle bedrywighede te begin. Waterlekke en elektrisiteitonderbrekings het gemeenskappe se daaglikse uitdagings geword en alhoewel die infrastruktuur herstel word, kan dit binne ure of selfs net ‘n paar dae wéér as beskadig of buite-werking aangemeld word. Hier is net ‘n paar voorbeelde van hoe haglik Brits daar uitsien.