BRITS POS – BRITS – Met die tema “Indië” was die Vroue Landbou-unie Britstak se Augustus vergadering alles behalwe alledaags.
Die Opvoeding-studierigting het die geleentheid aangebied en dit was ’n kleurvolle en kultureel verrykende ervaring wat die lede met nuwe perspektiewe én smaaklike herinneringe huis toe gestuur het.
Die gasvrou vir die oggend, Tieneman Janse van Rensburg, het saam met haar span, Louise Herbst, Carien Roos, Jana Lategan en Magriet Carstens, uit hul pad gegaan om ‘n atmosfeer te skep wat die siel van Indië vasgevang het.
Die oggend se program het afgeskop met ’n diepsinnige en inspirerende praatjie deur Adriaan Joubert, skoolhoof van Die Hoërskool Wagpos. Hy het gesels oor die konstantes in kinderopvoeding deur die eeue heen. Met verwysing na ’n aanhaling van Socrates: “Children today are tyrants. They contradict their parents, gobble their food and tyrannize their teachers,” het hy daarop gewys dat kinders fundamenteel nie verander het nie. Sy kernboodskap het gefokus op die belang van struktuur en eenvoudige gesinsrituele soos saam eet aan tafel.
Thilomi Govender het haar kennis en ervaring oor Indiese geskiedenis en tradisies in Suid-Afrika gedeel het. Sy het die gehoor meegevoer op ’n reis deur kultuur, kleredrag, geskiedenis en natuurlik die kos!
Die Indiese disse, voorberei deur Thilomi self, het nie net ’n geurfees vir die smaakknoppies gebied nie, maar was ook visueel treffend. Die kleurryke kos, speserye en geure het die sintuie bederf.
Die VLU Brits tak bedank almal wat die vergadering ’n uitsonderlike sukses gemaak het.
Vir navrae of meer inligting oor die VLU Brits-tak, stuur gerus ’n e-pos na: