BRITS POS – PRETORIA – Die bestuurderslisensies se reusagtige agterstand kán ingehaal word en AfriForum het dit Dinsdag, met druk van proefkaarte bewys.
Dit kom na jare se onvervulde beloftes van ’n nuwe lisensiekaartdrukker en dit hier plaaslik in Suid-Afrika en nie oorsee nie – ’n ten volle funksionerende lisensiekaartdrukker, gedemonstreer op die Departement van Vervoer se voorstoep in die Pretoriase middestad.
‘n Bewys aan die departement dat verskeie opsies reeds plaaslik beskikbaar is wat aan al die sekuriteitskenmerke van lisensiekaarte se voorvereistes voldoen om sodoende die ernstige agterstand uit te wis.
Die proeflisensiekaarte wat AfriForum gedruk en ten toon gestel het, is van polivinielchloried (PVC) vervaardig, soortgelyk aan die bestaande ID-kaarte, en die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se gesig pryk daarop.
Na afloop van ’n tenderproses vir die verskaffing van nuwe lisensiekaartdrukkers, het die departement se bod-evalueringskomitee verlede jaar ’n buitelandse maatskappy, Idemia, as voorkeurbieër aangewys. Die toekenning van dié tender is egter op ys geplaas nadat aantygings van ongerymdhede by ander Idemia-kontrakte aan die lig gekom het en is daar steeds, na meer as nege maande later – steeds geen teken van vordering in die verkryging van ’n nuwe lisensiekaartdrukker of -drukkers nie.
Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, hou vol dat die gesloer met die uitwissing van die agterstand en die verkryging van nuwe drukkers onnodig is. “Die departement het duidelik nie die wil om die probleme rakende die druk van lisensiekaarte uit die weg te ruim nie – dit ten spyte daarvan dat daar verskeie plaaslike diensverskaffers beskikbaar is wat oor die nodige tegnologie beskik om die drukwerk te doen,” verduidelik hy.
“Die agterstand in die druk van bestuurderslisensiekaarte staan tans nog op nagenoeg 500 000 wat beteken dat nagenoeg ’n halfmiljoen bestuurders tans sonder geldige lisensiekaarte sit. Dit kom voor asof die regering weens politieke redes verkies om die verkrygingsproses uit te rek ten koste van goeie dienslewering en nie eens werkbare moontlikhede in die belang daarvan oorweeg nie,” sluit Boshoff af.