BRITS POS – BRITS – Donderdag, 4 Desember was die Voortrekkermonument die gasheer van ’n uitsonderlike gebeurtenis. Die Risk & Reward-publikasie van skilder, Kobus Möller, waarvan slegs 500 eksemplare beskikbaar is, met individuele kunswerke, elk met sy eie karakter, kleurpalet en emosionele toon op die omslag. Dit is nie net ’n boek nie, dit is ’n kunswerk in eie reg, wat elke boek ’n versamelstuk maak.
Meester se binnewêreld
Möller word al dekades lank beskou as een van Suid-Afrika se mees deurleefde en tegnies vaardige skilders, bekend vir sy vermoë om diepte, atmosfeer en menslike ervaring met buitengewone gevoel vas te vang. Sy werke fokus op wild- en Afrikatonele en sy loopbaan word gekenmerk deur onverskrokke eksperimente, groot risiko’s en formidabele kreatiewe belonings – ’n reis wat dié titel, Risk & Reward perfek opsom.
In hierdie publikasie neem Möller kunsliefhebbers op ’n artistieke evolusiereis vol inspirasie, mislukking, oorwinnings én die filosofie wat sy kunsskeppings kenmerk. Die boek is meer as ’n katalogus van werke; dit is ’n blik op ’n meester se binnewêreld.
“Ek het Risk & Reward geskryf omdat ek besef het dat elke oomblik wat my wêreldbene laat bewe het – elke naby-ontsnapping, elke asemrowende ontmoeting – my nie net as mens gevorm het nie, maar as kunstenaar,” sê Möller. “Die boek is my poging om daardie reis vas te vang: die gevaar, die skoonheid, die innerlike worsteling en uiteindelik die genade wat my deur al die jare gedra het. Dit is my getuienis van wat gebeur wanneer ’n mens jouself kwesbaar maak vir die wild én vir die Skepper.”
Kunsboek wat sy tyd vooruit is
In die voorwoord deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, beskryf hy die boek so: “Met elke bladsye wat jy van Risk & Reward omblaai, sien jy nie net dekades van kuns nie, maar ’n lewe van geloofspronge. ’n Lewe waar die waaghalsigheid van risiko met genade begroet is om voort te gaan. Elke skildery in hierdie boek is ’n getuienis – nie net van talent nie, maar van oorgawe. Van ’n lewe waar risiko’s nie ter wille van avontuur geneem is nie, maar vanuit ’n plek van geloof en vertroue. Die pad was nie altyd maklik nie. Daar was dae van onsekerheid, min verkope, selftwyfel en verlies. Tog weerspieël elke kunswerk in hierdie publikasie ’n innerlike reis – ’n pad van geloof waar kreatiwiteit en risiko mekaar in die wêreld van geloof en vertroue in God ontmoet.
“Die risiko’s wat Kobus geneem het, was gegrond in die diepe oortuiging dat sy talente geen toeval was nie, maar ’n geskenk van God. Daarby kom die oortuiging dat die Skeppergod nie beperk is tot kerke en kansels nie, maar ook deur leeus, lig en die landskappe van Afrika spreek.”
Wanneer jy deur die boek blaai, tref die noukeurige uitleg jou. Die kort en lang vertellings word keurig met groot en klein kunswerke afgewissel.
Wat Risk & Reward onmiddellik onderskei, is dat Möller vir elke eksemplaar ’n eiesoortige oorspronklike skildery vir die buiteblad geskep het. Die resultaat is 500. Kopers van die boek word dus nie net eienaars van ’n publikasie nie, maar van ’n volledige kunswerk wat die kunstenaar eksklusief met die hand voltooi het.
Die beperkte oplaag onderstreep die idee van persoonlike betrokkenheid – die kunstenaar is intiem betrokke by elke eksemplaar.
Feesviering in die hart van kulturele baken
Die Senotaafsaal by die Voortrekkermonument dien reeds vir drie jaar ook as ’n kunsgalery met ’n besondere atmosfeer. Die idee van ’n kunsgalery in die Senotaafsaal het in die aanloop tot die Gelofteweek van 2022 ontstaan toe Kobus Möller vir dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, genader het met die voorstel dat hy, saam met ’n paar ander kunstenaars, die ruimte kan benut terwyl duisende besoekers deur die Monument stroom. “Hierdie ruimte vergestalt kulturele bewaring, erfenis en identiteit en die Monument se argitektuur en atmosfeer bied ’n statige agtergrond vir ’n publikasie wat self ’n huldeblyk is aan die diepte en diversiteit van Suid-Afrikaanse skeppingskrag,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste.
Daar is reeds groot belangstelling in die projek en daar word verwag dat die oplaag vinnig sal uitverkoop. Dit is ’n boek-en-kunsprojek wat met gemak in internasionale galerye, private versamelings en eksklusiewe kunsuitstallings tuishoort. Tog is dit diep gewortel in die Suid-Afrikaanse landskap – visueel én geestelik.
Vir meer inligting, kontak









