BRITS POS – BRITS - Die menseregtekommissie (MRK) se verdoemende verslag oor die totale ineenstorting van munisipale dienslewering in Noordwes wat Dinsdag uitgereik is, kom as geen verrassing vir die VF Plus nie. Dié verslag bevestig net wat die party al vir jare in die munisipaliteite, wetgewer en parlement uitlig oor dienslewering in die provinsie wat nie net verswak het nie, maar heeltemal tot stilstand geruk het.
Alhoewel die MRK se bevindings skokkend is, is dit niks nuut vir inwoners wat daagliks gebuk gaan onder riool wat deur huise, strate en selfs skole vloei nie, vir weke of selfs maande sonder lopende water sit, met vullis wat nie verwyder word nie en onwettige stortingsterreine wat in sommige gevalle in speelplekke vir kinders ontaard.
Tog het die provinsiale regering onder die premier, Lazarus Mokgosi en die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Coghsta), Saliva Molapisi, die mandaat gehad om in te gryp, maar was afwesig.
Die MRK stel dit duidelik dat dit nie meer gaan oor “swak dienslewering” nie, maar ’n daaglikse skending van mense se grondwetlike regte en ’n openbare gesondheidskrisis van nasionale omvang.
Die MRK het ook duidelike en dringende direktiewe uitgereik om die diensleweringskrisis in Noordwes aan te spreek.
Dit sluit onder meer in:
Munisipaliteite moet binne 90 dae uitvoerbare en gefinansierde herstelplanne vir water-, riool-, vullis- en padinfrastruktuur in dien.
Die eerste fase van implementering van hierdie planne moet binne 180 dae reeds aan die gang wees.
Alle verwaarloosde waterwerke en rioolaanlegte moet dringend herstel word, sonder enige verskonings of vertragings.
Die provinsiale regering moet artikel 139-ingryping toepas in munisipaliteite waar dienslewering totaal ineengestort het.
’n Krisis-taakspan met tegniese kundiges, burgerlike organisasies en opposisiepartye moet binne 60 dae gestig word om toesig te hou oor die uitvoering van die herstelplanne.
Die VF Plus steun die MRK se direktiewe ten volle, veral dat munisipale bestuurders en amptenare wat geld verduister het of hul pligte opsetlik verwaarloos, strafregtelik ondersoek en vervolg moet word.
Die gemeenskappe kan nie langer pa staan vir hierdie individue se wanbestuur en korrupsie nie.
Persoonlike aanspreeklikheid en strafregtelike vervolging is die enigste oplossing om hulle te dwing om hul pligte uit te voer tot voordeel van inwoners en nie vir hul eie finansiële gewin nie.
Noordwes is vandag ’n lewende bewys dat die ANC nie bevoeg is om te regeer nie. Die provinsie se verval is nie toevallig nie, maar ʼn direkte gevolg van jare se faksiegevegte, korrupsie, gierigheid en die sistematiese ontplooiing van kaders wat lojaliteit bo bekwaamheid stel.
Die VF Plus sal aktief werk op elke vlak van regering om te verseker dat hierdie direktiewe nie net op papier bly nie, maar daadwerklik uitgevoer word sonder versuim.
Uitgereik deur: Michal Groenewald
VF Plus-nasionale ondervoorsitter, LPW en provinsiale leier: Noordwes









