Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BRITS POS – BRITS – Wat ‘n aangename verrassing! Raasbekkies Kleuterskool van Mooinooi het onlangs by Huis Eden, buite Brits gaan kuier en die inwoners met kinderliefde en Kersgeskenkies bederf.
Hulle het ook tyd by elke inwoner spandeer en toe is daar ‘n verrassing – Christine Venter (73) het vir die kinders ‘Stille Nag’ gesing en Brits Pos moes net by die vrou met die klokhelder stem gaan kuier.
Christine vertel dat sy as weeskind deur die egpaar Venter aangeneem is en op die plaas Goedgedacht in Ottosdal grootgeword het.

Gevra waar haar wonderlike sangtalent begin het, glimlag sy skalks en vertel dat sy al as driejarige gesing het. Haar ma was ‘n kleremaker van formaat en Christine het die mooiste klere gehad. Sy vertel dat haar ouers reeds ouer was met haar aanneming en dat hulle kinders al volwassenes was en dat sy en die kleinkinders groot maats was.
Maar Christine is ‘n talentvolle vrou - sy het as onderwyser gekwalifiseer, skoolgehou, saam met Gé Korsten gesing en ook pragtige beeldhouwerk gedoen, is later getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore, Pierre en Louis wat steeds haar lewe verryk. 
Maar die sanggogga het later behoorlik gebyt en met haar drie poedel-hondekinders en ‘n spesiale haak aan haar Uno waarin die ‘Ama glug- glug’-stootwaentjie gepas het, kon sy gemaklik die ‘kinders’ oral saam met haar neem, net waar sy besoek afgelê het. (Televisiekykers van weleer sal vir oupa en ouma op die stoep onthou met die kleinseun in die stootwaentjie en die kompetisie tussen oupa en ouma om die mannetjie sover te kry om eerste “oupa” of “ouma” te sê – en dan verrassend sê hy “glug-glug-glug, Sasol”, en dan trek die stootwaentjie met skreeuende bande van die stoep af weg en laat die grootouers verstom agter).
Christine het ook die kuns as kulkunstenaar aangeleer en met haar sanguitvoerings gekombineer, wat leerlinge baie geniet het. Maar die merkwaardige vrou het selfs agter die stuur van ‘n yslike lang wit limousine ingeklim om gaste na deftige funksies te neem.
Maar al die erkenning gee Christine aan die Here – “want Hy het Sy hand nog altyd op my gehou.”
Gaan gerus na die skakel https://bit.ly/christinestillenag en luister na Christine se mooi stem. (Foto’s verskaf)