BRITS POS – BRITS – Op die Wagpospad, noord van die Hoërskool Wagpos, lyk dié pad soos ‘n pad behóórt te lyk nadat dit herstel is, maar die kilometers tot in Brits, is ‘n nagmerrie met talle ontsettende diep slaggate wat veroorsaak dat daar van die pad af gery moet word tot op die grond, waar daar ook reuse slaggate is.
Voertuie swenk ook links en regs oor die pad voor aankomende verkeer in om die slaggate te vermy. Streng gesproke is die Wagpospad onbegaanbaar en die entiteit verant-woordelik vir betaling aan die kontrakteur, wat reeds maande geen betaling ontvang het nie.
Dit is die staatsdepartement van openbare werke en infrastruktuur en VF Plus-raadslid, Elsa Lourens het sonder ophou met die waarnemende direkteur van die provinsie geskakel en daarvolgens sal die betaling defnitief teen 28 Augustus gedoen word. Brits Pos het ‘n WhatsApp-skrywe aan die hoof van dié departement verantwoordelik vir die bestuur van die projek, mnr Moss Kgantsi gestuur waarin die uitdagings voorgelê is en alhoewel die navraag afgelewer is, is dit met ons ter perse gaan nog nie gelees nie en geen antwoord is dus gekry nie.
Die groot bekommernis is dat dit onmenslik lewensgevaarlike omstandighede vir padgebruikers is, waar honderde kinders vyf dae per week skool toe en weer terug vervoer moet word en werknemers van hulle tuistes na Brits toe moet pendel en ook terug huis toe, óf in privaat voertuie óf taxis om hulle werke te behou. Swaar voertuie maak ook van die Wagpospad gebruik. Derduisende rand is ook al deur motoriste aan die beskadiging van voertuie, bande en vellings gespandeer.
Brits Pos het DA-raadslid Johan Pieterse op die Wagpospad raakgeloop en hy het vertel dat SANRAL die slaggate en padoppervlak met ‘n medium gaan vul om die padoppervlak aansienlik te verbeter en terwyl Brits Pos foto’s geneem het, het die eerste vrag van die hervullingsmateriaal daar aangekom sodat ‘n span werkers dan die slaggate vul en verseker dat dit tot tyd en wyl nie so lewensgevaarlik vir padgebruikers sal wees nie.