BRITS POS – BRITS – Na ‘n seisoen van harde werk op die rugbyveld is die o.14-span van Die Hoërskool Wagpos oorgehaal om die Noordvaal-beker dié naweek, in die eindstryd teen Leeuwenhof Akademie, op die velde van Midstream College, Olifantsfontein, te verower. Die Hoërskool Wagpos het dié Noordvaal Beker-liga op ‘n hoë noot begin met drie spanne in die kwalifiserende rondte, wat ook na die kwarteind-finaal deurgedring het: o.14 wen Frikkie Meyer 15-7, o.16 wen Ben Viljoen 27-19 en die eerste span wen Hans Strijdom 38-34.
In die kwarteind finaal teen Hoërskool Oosterlig wen die o.14’s (31-7) en die o.16’s (10-8).
Die twee spanne het in die semi-finale rondte gespeel, maar dit was die o.14’s wat hul staal in ‘n naelbytstryd teen Midstream College gewys en as wenners met ‘n telling van 17-10 geseëvier het.
Eerskomende Saterdag om 08:30 speel die o.14’s in die eindstryd en dit beloof groot opwinding en uitstekende rugby.
Volgens die skool se rugby-organiseerder, Christo van Niekerk het al die spelers werklik die skool se naam hoog gehou en uitnemende rugby gespeel.