BRITS POS – BRITS – Lede van Stingers Veerpyltjieklub in Brits speel gereeld teen spelers in ander dorpe en self vriende in die buiteland met ‘n aanlyn-toepassing.
“Aanlyn veerpyltjie-kompetisies het die afgelope paar jaar ‘n groot toename in gewildheid beleef, met meer spelers wat die spel tuis teen ander spelers van regoor die wêreld kan speel,” sê Niel Jacobs, voorsitter van die klub. “Om in voeling met die nuutste tegnologie te bly, neem Stingers se lede ook gereeld aan aanlynligas en –toernooie deel.”
‘n Veerpyltjiebord word vergesel deur ‘n aparte skerm wat óf aan die kant óf bokant die pyltjiebord geplaas word. Spelers se tellings word outomaties in die stelsel ingevoer, wat beteken die spel is vinnig, prettig en interaktief.
Dinsdag het een van Stingers se lede in Ellisras, Willem Beneke, aanlyn teen Niel Jacobs in Brits gespeel.
“Ons strewe by Stingers daarna om die voortbestaan van die sport te verseker en vir almal toeganklik te maak en alhoewel ons al ‘n geruime tyd aan aanlyn-kompetisies deelneem, kan die toepassing en tegnologie dit ook vir die jonger generasie meer aanloklik maak,” sê Niel.
Nuwe lede en belangstellendes word hartlik uitgenooi om elke Dinsdag en Donderdag vanaf 18:00 tot 21:00 by Dassie Paleis saam te kom oefen.
Daar word ‘n aanlyn-toernooi, wat oor ‘n naweek strek, beplan.
Vir meer inligting oor die toernooi en die klub se bedrywighede, skakel Niel Jacobs by 064 808 3910 of Deon Pretorius by 082 801 5045.