BONUS - RUSTENBURG - AfriForum en Kgosikgolo Kgafela Kgafela II van die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap het op Donderdag, 26 Junie ’n geskiedkundige erkennings- en samewerkingsooreenkoms in Kaapstad onderteken.
Hulle het ook hul samewerking ter versterking van kulturele outonomie, gemeen-skapselfstandigheid, landbouontwikkeling en die bewaring en versterking van kulturele identiteit aangekondig.
“Die ondertekening van hierdie erkennings- en samewerkingsooreenkoms tussen ons onderskeie gemeenskappe is baie betekenisvol, veral in ag genome ons verlede van konflik en spanning. Dié wat die Bakgatla Ba Kgafela en die Afrikaners haat, het lank reeds hierdie historiese oomblik gevrees.
“Dit is waarlik ’n historiese gebeurtenis wat haatdraendes voortaan irrelevant gaan maak in ons lewe. Dié wat haat, staan vandag afgesonder, terwyl die wêreld toekyk hoe ’n pragtige hoofstuk van liefde voor hul oë ontvou,” het Kgosikgolo Kgafela Kgafela II, Kgosikgolo van die Bakgatla Ba Kgafela in Botswana en Suid-Afrika gesê.
“Suid-Afrika, as ’n gesentraliseerde bestel, laat kultuurgemeenskappe op talle maniere in die steek – AfriForum glo dat die enigste oplossing gesetel is in gemeenskapsfederalisme.
“Dit is waarom ons ’n netwerk van kultuurgemeenskappe bou wat op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, saamwerk om ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die kinders van ons kultuurgemeenskappe te verseker. Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie historiese ooreenkoms met Kgosikgolo Kgafela en die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap aan te gaan en ons sien daarna uit om saam te werk op kwessies wat vir ons kultuurgemeenskappe van gemeenskaplike en spesifieke belang is,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum verduidelik.
Die doel van dié ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf ten einde ewigdurende vrede en vriendskap tussen die Bakgatla Ba Kgafela en Afrikaners te verseker.
“Ons eer ons voorouers se opofferings en uithouvermoë. Ons eer hulle vir hul optrede wat toegesien het dat ons vandag steeds as kultuurgemeenskappe bestaan. Ons, die huidige geslag en hul trotse nasate, is geïnspireer deur hul waagmoed en dapperheid, en neem die verantwoordelikheid op om vorm te gee aan die toekoms wat ons wil hê vir dié wat weer ná ons kom. Die ondertekening van hierdie verdrag versterk die nuwe orde, gebaseer op kulturele outonomie, wat ons wil sien vorm aanneem in suidelike Afrika,” sluit Kgosikgolo Kgafela af.
AfriForum het voorheen reeds soortgelyke ooreenkomste gesluit met die Jamangile KaMabandla- koninklike familie van Tsolo in die Oos-Kaap; die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi van Disaneng in Noordwes; die Seleka Barolong van Thaba’ Nchu in die Vrystaat; die Ndebele-organisasie Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO); en die Royal Leaders of South Africa (ROLESA).
Hierdie ooreenkomste het al tot verskeie projekte op voetsoolvlak gelei, insluitende projekte wat fokus op landbouontwikkeling, erfenis, kulturele identiteit en inheemse tale.