Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die organiseerders van die Klerksdorp Boekefees het die afgelope naweek ‘n nuwe kortverhaalkompetisie aangekondig. Die Sandy Schoeman-kortverhaalprys spog met ‘n prysgeld van R2 500 en die tema is Daar’s net een jy.
Die opwindende nuus is tydens hulle Daar’s net een jy-samekoms by From Shack to Sanctuary in Klerksdorp aangekondig. Susan Coetzer het oor haar boek Super C gesels en drie Klerksdorpers, Sandy Schoeman (Rooiletterkind), Petro-Odendaal-Kotze (Wanneer die krieke stil word) en Sam-Annique Lowry (Forever Yours), het meer oor hulle boeke vertel.
Al drie die Klerksdorp-skrywers was deel van die Boekefees se slypskool.
Die Klerksdorp Boekefees fokus sedert 2020 daarop om ’n sterker leeskultuur in die Kosh-gebied te ontwikkel. Die fees is veral bekend vir die saamskryfprojekte - wat bemarkingsgeoriënteerd is. Op pad na Grysberg (Naledi, 2023) en Sewe keer sondig (Naledi, 2024) is publikasies wat hieruit spruit.
Hulle nuwe saamskryfprojek is vier boeke waaraan vier skrywers in vier genre’s geskryf het. Elke boek word apart uitgegee en kan alleenstaande gelees word, maar wanneer die boeke in volgorde gelees word, vorm dit een boek.
Met die oog op toekomstige projekte, het die fees besluit om meer op opkomende skrywers te fokus aangesien dit al hoe moeiliker word om te publiseer.
’n Handvol nuwe stemme is gekies om oor twee jaar kwartaalliks aan werkswinkels deel te neem. Die siftingsproses was gedurende September en Oktober.
Stefaans Coetzee, wat ’n groot liefde vir die korter kuns het, het gesê die prys is na Sandy Schoeman vernoem omdat sy die eerste skrywer was wat aan die slypskool deelgeneem het, wat gepubliseer het. “Ons wou haar eer.’’
‘n Nuwe datum vir die Klerksdorp Boekefees sal binnekort bekendgemaak word.
Hoe dit gaan werk?:
* Onthou, die tema is: Daar’s net een jy.
* Die fees kyk na inspirasieverhale van 1500 tot 2000 woorde. Verhale wat op randfigure fokus en sosiale kwessies aanspreek, sal voorkeur geniet.
* Die fees behou die reg om die gekeurde verhale te publiseer.
* Die sluitingsdatum is middernag 19 Januarie 2026 en die wenners sal op 3 April 2026 aangekondig word. Die prysgeld is R2 500.
* Alle bydraes moet ge-e-pos word na
* In die “subject line” skryf: KORTVERHAAL.










