Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die jaarlikse borskanker fondsinsameling van OFM, Bowling 4 Boobies, is verlede week by Klerksdorp Rolbalklub gehou en dit was ‘n fees van pienk.
Altesaam 42 spanne (168 spelers) het mekaar aangedurf op die bane van KBC en toe was dit tyd vir die veiling van items ten bate van borskankernavorsing.
Verskeie items was te “koop” maar die mees gesogte item van die aand was die geraamde pienk bra. Verskeie spanne het hulle aanbiedinge gemaak maar op die einde is die Pienk Bra aan ‘n plaaslike motorgroep verkoop vir ‘n astronomiese R75 000. Die totalle insameling vir die aand het R208 000 bygedra tot die Pinktober fonds.
Die totalle insameling van die vyf weke se rolbal by verskillend rolbalklubs in die OFM uitsaaigebied behoort die R1 miljoen kerf ver te oorskrei.
Verlede jaar is R1 018 000 ingesamel en die verwagting is om die bedrag na kleingeld te laat lyk.










