16 Mei 2025 - Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Buitelanders wat winkels bedryf op Stilfontein leef in angs nadat gewapende rowers die afgelope drie weke op hul winkels toegeslaan het.
Klerksdorp Rekord het gehoor dat vyf rooftogte die afgelope drie weke op winkels wat deur Bangladeshis besit word, beroof is.
Volgens adj-off Naas Venter is dit onbekend of dit dieselfde verdagtes is, aangesien hulle gesigte met balaklavas bedek was. In die een rooftog op 3 Mei omstreeks 18:40 is die Civic Café in die Burgersentrum beroof. Volgens Venter het drie mans die winkel beroof. Een was met ‘n 9mm pistool gewapen. R7 000 kontant en sigarette ter waarde van R1 600 is geroof.
Die polisie kon op grond van beskrywings gesigsamestellings van die drie rowers saamstel. Al drie is van Lesotho, donker, medium lank, een is skraal, hulle het geen ooglopende tatoeëermerke nie, aldrie het bruin oë en een het slegs een oog. Dit is onseker of dit as gevolg van ‘n besering is en of hy permanent een oog het. Al drie praat Sotho met ‘n Lesotho-aksent.
Die een man met slegs een oog het ‘n swart baadjie, khakibroek en swart hoed gedra. Die ander twee het wit T-hemde onder wit baadjies gedra met roomkleurige broeke. Een het ‘n wit/roomkleurige beanie gedra. Die ander een ‘n wit hoed.
Een van die mans het ‘n kennebaard gehad. Sy trawante was skoongeskeer. Hulle is aldrie tussen 28 en 32 jaar oud.
Lyk hulle bekend? Skakel Venter by 060 987 8458 / 018 484 7638 as jy hulle herken of weet waar hulle hul bevind.