Klerksdorp Rekord, Bothaville - Nampo het aangebreek en besoekers het al vroeg op Dinsdag 13 Mei in rye geval by die hekke om die jaarlikse Oesdag by te woon. Dit is vanjaar die 57ste jaar wat die Nampo Oesdag aangebied word.
Hierdie jaar is die tema: “Globale Landbou, Plaaslik!” Die NAMPO Oesdag word jaarliks by Nampo Park buite Bothaville gehou, en bevestig steeds sy status as die grootste en invloedrykste landboupronkstuk in die suidelike halfrond.
Behalwe om al die nuutste wêreldwye landbou-innovasies te sien, bly Nampo ‘n gewilde bestemming vir produsente, landboubesighede en diensverskaffers om te verbind, saam te werk en handel te dryf.
‘n Nuutjie by Nampo is die Graan SA Museum. Geleë langs die “Chairperson’s Lounge” aan die westekant van die park, vertel die museum die reis van die organisasie en Nampo se transformasie oor die jare. Dit is ‘n moet-sien vir almal wat die wortels van Suid-Afrikaanse graanproduksie wil eer.
Kaartjies is beskikbaar by www.opentickets.com, met afslag op toegangsfooie vir diegene wat aanlyn koop. Hekke open daagliks om 07:00 en sluit om 17:00.