Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die De-mokratiese Alliansie (DA) het ernstige kommer uitgespreek oor die finansiering van die Hillview-dorpsontwikkeling megaprojek by Doringkruin, met spesifieke fokus op ‘n onbekende befondsingsbron vir die geraamde R471 miljoen grootskaalse infrastruktuur-komponent.
In ‘n verklaring wat vrygestel is na ontvangs van korrespondensie van die Noordwes LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (COGHSTA), Oageng Molapisi, het die DA benadruk dat geen entiteit bekend gemaak het hoe die aansienlike bedrag vir die grootskaalse infra-struktuur befonds sal word nie.
Die DA het in die verklaring aangedui dat nóg die Noordwes Behuiskorporasie (NWBK) nóg die Matlosana Munisipaliteit tans oor die beskikbare fondse beskik om ‘n projek van hierdie omvang te akkommodeer.
“Die toekenning van R471 miljoen vir grootskaalse infrastruktuurkonstruksie vir ’n megastadprojek wat steeds nie onder die SPLUMA goedgekeur is nie en wat geen bevestigde befondsing het om die voltooiing daarvan te verseker nie, laat die vraag ontstaan wie daarby baat vind, want dit is duidelik nie die inwoners van Matlosana nie,” lui die party se verklaring.
Die party se kommer volg op ‘n brief van LUR Molapisi wat bevestig het dat die NWBK nie oor die vereiste vrystelling onder die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (SPLUMA) beskik om met interne konstruksie by Hillview voort te gaan nie.
Hoewel die LUR aangedui het dat die burgemeester van die Matlosana Munisipaliteit die konstruksie van eksterne/grootskaalse infrastruktuur goedgekeur het, het die DA daarop gewys dat ‘n brief van 13 Mei vereis dat die munisipaliteit ‘n ooreenkoms met die NWBK moet sluit vir sodanige konstruksie, wat ‘n gedetailleerde uiteensetting van die omvang van werk, koste en befondsing moet insluit.
Volgens die DA is geen sodanige ooreenkoms of enige verwante goedkeurings en/of vrystellings vir die grootskaalse dienste beskikbaar gestel, of aan die publiek bekendgemaak nie.
Die DA se koukusleier in Matlosana, rdl Gerhard Strydom, het na bewering reeds afskrifte van die ooreenkoms en alle verwante goedkeurings en/of vrystellings aangevra.
Die DA het ook ‘n anonieme fluitjieblaser aangehaal wat beweer dat die konstruksie van die grootskaalse rioolpypleiding deur die vleiland naby Hillview voortgaan sonder die nodige omgewingsimpakstudie en goedkeuring. Indien dit waar is, meen die DA dat hierdie konstruksie onwettig sou wees, en dat die verwante uitgawes onreëlmatig sou wees.
Die party het sedertdien weer aan LUR Molapisi geskryf om onmiddellik alle konstruksie te staak in afwagting van ‘n volledige ondersoek en openbaarmaking. Verder het die DA hierdie jongste verwikkelinge onder die aandag van die Voorsitter van die COGHSTA Portefeuljekomitee, Kgalalelo Makgokgowa LV, gebring en ‘n dringende vergadering versoek waar LUR, die NWBK, die Departement van Menslike Nedersettings en die Matlosana Munisipaliteit aan die Wetgewer verantwoording moet doen.
Die DA beweer dat die projek R471 miljoen se openbare geld in gevaar stel en het on-derneem om voort te gaan met sy ondersoek totdat daar volledige openbaarmaking en aanspreeklikheid vir elke aksie by die Hillview-dorpsprojek is.










