Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Vir die meeste kinders beteken skoolvakansie rus en ontspanning, maar vir Ava Steyn, ’n graad 4-leerling van Laerskool Saamtrek, was dit allesbehalwe stil.
In plaas daarvan om voor die televisie te lê, het Ava haar vakansie op die loopplank deurgebring - en watter ongelooflike prestasies het sy nie behaal nie.
Sy het aan die Talent Africa Nationals deelgeneem waar sy nie net Diamantstatus verwerf het nie, maar ook genooi is na die gala-aand. Hier het sy twee spesiale toekennings ontvang, onder andere Top 10 Junior Model, en sy het algeheel tweede in haar ouderdomsgroep geëindig.
Kort daarna het sy in Muldersdrift deelgeneem aan die Miss Supreme Fire SA-kompetisie, waar sy gekroon is as die Algehele Supreme Fire Queen Wenner. Sy het ook die titels vir beste onderhoud en beste loopplank in haar ouderdomsgroep gewen.
Maar Ava se sukses het nie daar geëindig nie! Sy het ook aan Toddler and Tween of the World deelgeneem wat in Klerksdorp gehou is en ’n indrukwekkende lys toekennings ingepalm, waaronder: Haute Couture Winner, Fitness 1st Princess, Crown for a Cause 1st Princess, Talent 2nd Princess, North West Category Winner, Best Box Charity Winner, Top Model van die Junior Afdeling en uiteindelik, Kategorie Wenner.
As gevolg van hierdie merkwaardige prestasies is Ava uitgenooi om Suid-Afrika te verteenwoordig op die internasionale verhoog by Ultimate International Miss volgende jaar.
Ava word afgerig deur Michayla Lessing van Empowered by M Modelskool.