Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Laerskool Saamtrek se eerste tennisspan het behoorlik naam gemaak tydens die afgelope Super 12-tenniskompetisie wat in Pretoria gehou is.
Die Super 12-reeks word deur 20 top skole uit vier provinsies gespeel. Die tennisreeks word op ‘n uitklopbasis gespeel en Laerskool Saamtrek het in die eerste rondte te staan gekom teen Constantiapark, Rustenburg, Van Riebeekpark en Kruinsig.
In die semi-finaal het die meisies en seuns teen Mooirivier te staan gekom. Die meisies klop vir Mooirivier en speel teen Hennopspark in die finaal waar Saamtrek as oorwinnaars uit die stryd tree en die goue medalje verwerf. Die seuns verloor die semi-finaal en speel uit vir derde en vierde plek teen Vastrap. Hier wen hulle vir Vastrap en palm die bronsmedalje in.
Die twee medaljes veroorsaak dat Laerskool Saamtrek algeheel eerste eindig. Dit is die eerste keer dat Saamtrek die Super 12-tennis wen nadat hulle verskeie jare ‘n tweede en derde plek behaal het.
Nog laerskole wat aan die Super 12-tennisreeks deelgeneem het, is Menlopark, Helderkruin, Elarduspark, Goedehoop, Vastrap, Randhart, Middelburg, JJ vd Merwe, Orion, Rustenburg, Mooirivier, Constantiapark, Kruinsig, Van Riebeeckpark, Wierdapark, Hennopspark, Peetersburg-Oos, Fontainebleau en Tzaneen.
Laerskool Saamtrek het vroeër vanjaar ook die Super 12- rugbyreeks gewen.