Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Kassie Kasselman (82) het die maand sy 30 000ste vlieguur gevlieg. Dit is ‘n mylpaal wat hom 63 jaar geneem het om te bereik.
Dié bekende instrukteur en kommersiële vlieënier sê grappenderwys hy het vliegtuigbrandstof in sy neus wat hy met brandewyn afsluk. Klerksdorp Rekord het op 14 Oktober met hom oor die prestasie gesels en hy was in ‘n opgewekte bui...
“My kinders het ‘n partytjie vir 4 Oktober by die PC Pelser-lughawe vir my gereël om dit te vier en dit was wonderlik om my kinders en vriende daar te kon hê.
“Ek het my dogter die volgende dag OR Tambo-lughawe toe gevat om terug te vlieg na Dubai toe en toe ek weer by die huis kom, het ek so depressief geraak, want wat is my volgende mikpunt,” vertel hy. Hy het toe besluit hy sal vlieg tot hy nie meer kan nie.
Hy vertel hoe graag hy sy vrou, Igna, by die geleentheid wou gehad het. Sy is vier jaar gelede oorlede.
Hy vlieg gemiddeld 400 uur per jaar en het nog ‘n halfuur nodig gehad om 30 000 te kon vlieg. Hy het dit dieselfde dag as sy partytjie ingehaal.
Sy twee seuns (Jandré en Jean-Pierre), two kleinseuns (JJ en Ulrich) en skoonseun, Abrie Vlok, is vlieëniers, en hy was hulle instrukteur. Abrie vlieg tans vir Emirates.
Volgens Jean-Pierre is sy pa se vliegure so merkwaardig, want hy (Jean- Pierre) het Boeings gevlieg vir 25 jaar en sy vliegure is slegs 18 000!