Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Die oud-provinsiale speurhoof, brig Kiewiet van Zyl (69), het verlede week aan ‘n hartaanval gesterf.
Hy was besig om fiets te ry in Strausslaan, Vanderhoffpark op Donderdagmiddag 15 Januarie toe hy die hartaanval gekry het. Nooddienste het om 16:25 ‘n oproep ontvang en hul na die toneel gejaag, maar hy was reeds dood toe hulle daar opdaag.
Van Zyl was 42 jaar in die polisie waar hy verskeie belangrike posisies beklee het. Na sy aftrede was hy ook voorsitter van die Mooiriviertak van die Bond van Oud-Polisiebeamptes.
‘n Roudiens vind plaas op Vrydag 23 Januarie om 10:00 in die Methodiste Kerk, Potchefstroom. Hy word oorleef deur sy vrou, kinders en kleinkinders.
Briefskrywer sterf
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Gereelde briefskrywer aan Klerksdorp Rekord, is kort voor Nuwejaarsdag oorlede.
Henry Purchase (81) het in Panorama Park Aftreeoord gewoon. Sy familie wonder of daar ooit iemand was wat oor soveel dekades méér briewe geskryf het as hy.
Lesers in Klerksdorp en selfs die ou Wes-Transvaal het uitgesien na sy bydraes tot plaaslike gesprekke en die boeiende reaksies wat dit soms ontlok het. Hy was ‘n toegewyde Christen.
Henry is op 30 Desember oorlede. Hy sou op 13 Januarie sy 82ste verjaardag vier.
’n Gedenkdiens ter nagedagtenis aan hom is op 10 Januarie by Panorama Park gehou.
Pastoor verhuis na die Noordkaap
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Pastoor Nico-Drei van der Merwe het die afgelope naweek sy gemeente gegroet nadat hy ‘n beroep na die Noordkaap aanvaar het.
Hy was vir 10 jaar verbonde aan Nuwe Lewe en het vandeesweek verhuis na Kathu waar hy by die AGS-gemeente op die dorp aangesluit het.
Tydens die afskeidsdiens op Sondagaand 18 Januarie het pastoor Wikus van Zyl gedeel hoe hy vir Nico-Drei, vars uit skool, onder sy vlerk geneem het.
Kerk bars uit sy nate
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Plaaslike gemeente se groei is so merkwaardig dat die Hebron gemeente reeds ‘n tweede ligging benodig.
Die kerk het in Mei verlede jaar in die stad begin en het dienste by Pyramids op Sondae om 09:00.
Volgens pastoor Murdoch van Straten het die gemeente so gegroei dat hy ‘n permanente ligging benodig vir kursusse, beradings en ander funksies.
21 Ton teer maak ’n verskil op Stilfontein
Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Inwoners van die dorp bestuur soveel makliker na die feesseisoen nadat slaggate herstel is.
AfriForum se plaaslike tak in samewerking met die gemeenskap en Pieter du Preez, VF+-raadslid van wyk 30, het ’n grootskaalse aksie van stapel gestuur om slaggate in wyk 30 en 31 te herstel. Hiervoor is 21 ton teer aangekoop.









