Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

12 Desember 2025

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Skoolbeheerliggame het steeds die bepalende gesag rakende ’n openbare skool se taal- en toelatingsbeleid en die Bela-wysigings bring nie skielike of drastiese veranderinge aan taal- of toelatingspraktyke nie. 

So sê die skoolbeheerliggaam-organisasie Fedsas oor onlangse opmerkings hieroor in die portefeuljekomitee oor basiese onderwys. Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, en haar departement het verlede week aan die komitee verslag gedoen. 

 

Die departement se hoofdirekteur van beplanning en toepassingsondersteuning, James Ndlebe, het aan LP’s gesê “voormalige Model C-skole” is voor in die ry vir die inwerkingstelling van die Bela-wet se omstrede taal- en toelatingsklousules.

“Sy opmerkings was ongelukkig en onnodig en skep verwarring en paniek. Fedsas veroordeel die wyse waarop die kommentaar in die parlement gemaak is, juis omdat dit spanning skep in ’n reeds sensitiewe omgewing,” sê dr Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof van Fedsas. 

Sy sê die verantwoordelike benadering is om te wag vir die finale regulasies oor toelating en skoolkapasiteit, wat uiteindelik die amptelike en bindende raamwerk sal vorm. 


“Die Skolewet plaas ’n verantwoordelikheid op alle skole om hul taal- en toelatingsbeleid van tyd tot tyd te hersien - dit beteken nie noodwendig wysig nie. Die wet vereis ook nie dat beleid vir goedkeuring ingedien moet word nie; dit moet slegs ter insae beskikbaar wees. Die bevoegdheid om hierdie beleid te bepaal, bly volledig ’n funksie van die beheerliggaam. Die enigste uitsondering is dat sekere grondwetlike faktore by hersiening oorweeg moet word. Hierdie faktore is egter lank reeds deel van regspraak en goeie praktyk.”

Die verwysing na “voormalige Model C-skole” deur onderwysrolspelers, drukgroepe en politici is egter problematies. 

“Model C-skole bestaan al vir meer as 30 jaar nie. Dit word egter steeds as ’n soort sambreelterm gebruik om te verwys na veral enkelmediumskole met Afrikaans as onderrigtaal. Baie skole wat tans Afrikaans as onderrigtaal gebruik, het nie eens bestaan in die tyd van Model C-skole nie. Voorts is dit belangrik om te onthou dat daar destyds ook Model B-skole was met Afrikaans as onderrigtaal.”