Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Klerksdorper is op die kortlys vir vanjaar se jeugboekpryse.

Sandy Schoeman was oorbluf met die nuus wat op Maandag 25 Maart bekendgeword het. Dit is haar tweede boek wat die eer te beurt geval het. Sy het verlede jaar haar debuutboek, Rooiletterkind publiseer wat deur Naledi uitgegee is. 

Sandy het eintlik naam gemaak as skilder en waterverfkunstenaar. Sy het aan Klerksdorp Rekord gesê sy was oorstelp van vreugde toe sy die nuus kry. Sy is saam met twee ander skrywers op die kortlys in die kategorie vir verhale vir jong volwassenes.

Sandy met Chakalaka uit ‘n blikkie, Fanie Viljoen met Sny hulle in sterre uit; en Celeste Loriston met Pagama vir die Six. Die kinderverhaal-finaliste is Celeste Loriston met Kwini-Lee en die kuberkraker; Karla Cloete met Wikus se wetenskaplike dagboek; en De Wet Hugo met Die doodgelukkige bure.

Een wenner sal in elke kategorie aangewys word, met ’n totale prysgeld van R100 000: R50 000 vir elke kategorie. Altesaam 104 manuskripte - talle deur debuutskrywers - is ingeskryf vir die kompetisie, wat die ontwikkeling van gehalteleesstof vir lesers ten doel het. Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon skrywers op gelyke vlak kompeteer. Die beoordelaars vir manuskripte vir 8 tot 12-jariges was Mia Oosthuizen, Kobus Geldenhuys en Jaco Jacobs. Vir tiener- of jongvolwasseneverhale was die beoordelaars Marita van der Vyver, Cliffordene Norton en Susan Samuel.

Cliffordene het na die beoordeling ondermeer gesê: “Om ’n beoordelaar te wees, was ’n uitstekende geleentheid! Ek het as ’n skrywer en leser soveel ryker ná die proses weggestap. Daar was ’n paar uitsonderlike verhale van hoë kwaliteit, en ek kan nie wag dat die Afrikaanse lesers hierdie verhale geniet nie. My gunstelingverhaal kan ek in twee woorde opsom: ‘Love dit!’ Die verhaal bied ’n lig maar emosionele blik op die uitdagings en triomf van die tienerjare, en sal die leser bybly lank nadat hulle dit gelees het.” 

Kobus Geldenhuys wat as vertaler gereeld met oorsese tekste werk het gesê hy is trots dat die drie uiteenlopende manuskripte uit eie bodem kom. “Van die ander inskrywings sal waarskynlik ook ná verdere ontwikkeling gereed wees om jong Afrikaanse lesers op verskillende ervaringsreise te neem.”

Die wenners word op 15 April bekend gemaak. Die wentitels verskyn teen die einde van 2024. 

Michelle Cooper (Uitgewer en Hoof: Kinder- en jeugboeke, Tafelberg) sê: “My verwagtinge is oortref deur die 104 inskrywings wat ons gekry het. Ek is natuurlik baie opgewonde oor die vooruitsig om die wenners se boeke uit te gee, maar benewens hierdie ses finaliste, is daar nog baie meer belowende manuskripte wat verder ontwikkel kan word. 

“Ek hoop dat jong lesers nie anders sal kan as om, soos Cliffordene, ‘Love dit!’ uit te roep by die lees van ons wenboeke 
nie.”