Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Klerksdorpers het woedend gereageer op die nuus van ‘n jong vrou se dood nadat sy vermoedelik deur ‘n dronkbestuurder doodgery is.

Die voorval het Donderdagaand 25 April op die hoek van Afrikaner- en Leemhuisstraat, Roosheuwel gebeur terwyl ‘n groep jong mense van die kafee af terug huis toe gestap het. 

Die beskuldigde, Andries van Niekerk (53) het vier nagte agter tralies deurgebring voordat hy op Maandag 29 April in die hof in Klerksdorp verskyn het. Hy is van strafbare mansslag, dronkbestuur en die verlaat van ‘n ongelukstoneel aangekla.

 

 

Die polisie ondersoek bewerings dat hy agter die stuurwiel was van die bloedrooi Isuzu-bakkie wat twee jong vroue vroegaand raakgery het en die een se dood veroorsaak het.

Twee niggies, Nadine en Eldean Pieterse, het saam met Eldean se broer en sy meisie langs die sypaadjie gestap toe die voertuig hul tref. Nadine (26) se klere het aan die bakkie gehaak en sy is etlike meter ver gesleep. Sy het later die aand in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Eldean (21) wat skrams getref is en uit haar skoene gestamp is, se ligamente in haar been is af. Die ander twee is nie getref nie. 

‘n Hartseer Eldean het aan Klerksdorp Rekord vertel hulle kon nie op die sypaadjie stap nie, weens klippe wat op die hoek gepak is. Maar hulle het die pad goed geken en selfs al was dit pikdonker oor die straatligte nie werk nie, het hulle dit soos menige ander aand al geselsend gestap.

Die rooi voertuig het asof uit die niet agter hulle verskyn. Eldean het vertel hoe sy omgekyk het en deur die hoofligte verblind is. “Ek het probeer om Nadine uit die pad te stamp toe ek getref is, maar dit was te laat.’’

Die Isuzu-bakkie het na bewering van die toneel weggery en is, volgens kol Adele Myburgh, deur ‘n sekuriteitswag agternagesit wat alles aanskou het en hom teruggebring het na die ongelukstoneel. Klerksdorp Rekord het ook verneem dat ‘n registrasienommer wat op die toneel opgetel is, aan die Isuzu behoort.

Van Niekerk is op Vrydag 26 April van strafbare mansslag, dronkbestuur en die verlaat van ‘n ongelukstoneel aangekla.

Volgens Eldean se ma, Elvera, is daar aan haar gesê dat die motorbestuurder onder die invloed van alkohol bestuur het. “Ons is verpletter. Hy het blykbaar aan die polisie gesê hy het gedink hy het ‘n hond raakgery. Nadine was soos ‘n kind in my huis. My dogter verwyt haarself oor wat gebeur het; ek weet nie hoe om my kind te troos nie. Hulle was nie net niggies nie, maar beste maatjies.’’

‘n Roudiens vir Nadine word op Vrydag 3 Mei om 15:00 in die Hervormde Kerk Morester gehou.